LifestyleLocal Lifestyle

Nuwe baadjie aangetrek vir historiese Modimolle-plaashuis

Op die plaas Rhenosterpoort, net buite Modimolle, staan ’n historiese plaashuis wat meer as 100 jaar oud is.

Hierdie huis, wat vir die afgelope 30 jaar verwaarloos in wind en weer gestaan het, het nou ’n splinternuwe baadjie aangetrek ná die ywerige restourasiewerk van die eienaars, Jan en Mariska Greyling.

Mariska het aan Die Pos vertel hulle het baie navorsing gedoen en onder meer ontdek dat die huis oorspronklik in die vroeë 1900’s gebou is.

Die huis is vermoedelik in opdrag van Lord Frederick Roberts, opperbevelvoerder van die Britse magte, gebou. Dit is ná die Anglo Boere-oorlog as handelspos en hotel gebruik wat die Keespoort-treinstasie bedien het.

Só het die ou plaashuis buite Modimolle gelyk voordat Jan en Mariska Greyling dié ou huis tot sy volle glorie herstel het.

Die “ou Warmbad-pad” het reg voor die huis verby geloop en mense het van oral met ossewaens en perdekarre gekom om melk, varsprodukte en allerlei goedere op- en af te laai.

Talle onderhandelings en ruilhandeltransaksies is daar beklink. Later jare het Louis Luyt, bekende politikus en sakemagnaat, ook daar gewoon.

Om die plaashuis se ryk geskiedenis te behou het die Greyling-gesin besluit om minimale strukturele veranderings aan te bring.

Aangesien die huis die afgelope 30 jaar verlate was, het daar mettertyd ’n verskeidenheid “inwoners” waaronder ’n hele familie swaeltjies, twee reuseluislange in die dak en ’n magdom spinnekoppe en insekte hulle kom tuismaak.

Die Greylings het in 2017 begin met die enorme skoonmaakproses. Volgens Mariska het die werklike restourasieproses eers in 2018 begin nadat sy haar man oortuig het om nie ’n nuwe huis te bou nie, maar eerder die plaashuis tot sy volle glorie te gerestoureer.

Dié pragtige kombuis is deesdae die hart van die huis.

Die huis se struktuur, sinkdak en houtvloere is alles gerestoureer. Daar is lopende water aangelê met moderne badkamers en ’n volledigtoegeruste kombuis. Daar is ook elektriese bedrading aangebring.

Volgens Mariska was die duurste en tydrowendste proses die restourasie van die houtvloere.

Hoewel die dak plek-plek nie waterdig was nie, het hulle heelwat van die oorspronklike sinkplate behou. Terwyl die restourasiewerk aan die gang was, het die egpaar in ’n ander huis op die plaas gewoon.

“Toe die elektriese bedrading voltooi is en die eerste ligte brand, het ons summier ingetrek; selfs al was daar net die basiese geriewe. Ons het behoorlik gekampeer in ons huis,” het Mariska opgewonde vertel.

Die Greyling-gesin hou daarvan om familie en vriende te onthaal en het dus besluit om die destydse sonkamer in te rig as oopplankombuis om as’t ware die hart van die huis te vorm.

Hoewel die spens en waskamer apart is, vorm dit steeds deel van die kombuis. Daar is ook onlangs ’n swembad by die agterstoep gebou.

Die tuin sal aandag kry sodra die lente aanbreek. Die groot akkerboom is die hart van die tuin waaronder talle verjaarsdae, gesellighede en Kersfees-etes gehou word. Dit is ook daar waar die egpaar getroud is.

Mariska het aan Die Pos gesê sulke historiese huise verg intensiewe onderhoud, maar dit lewer ook soveel stories en verrassings op. Hulle het uiteindelik verlief geneem met die familie swaeltjies wat intussen weer in die spens, gang, hoofslaapkamer, een van die badkamers asook in die gastekamer neste maak.

In die herfs vertrek hulle noordwaarts, maar keer weer in Augustus na presies dieselfde neste terug.

“Ons het mettertyd ’n roetine gevestig waar ons soggens net ná sonopkoms die buitedeure wawyd oopmaak en net voor sononder, wanneer al die swaeltjies weer terug is in hul nessiess, die deure weer toemaak. Wanneer ek die oggend ’n bietjie later eers die deure oopmaak, word ek behoorlik deur die swaeltjies aangepraat met ’n groot geraas.”

Gaan kyk gerus na die stap-vir-stap fotos op die webwerf: fixit.tuis.co.za/entry/mariska-greyling(.)

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button