NewsSchools

Kuikenden-kleuterskool gee om vir hul dorp

Leerders en personeel van die Kuikenden-kleuterskool in Thabazimbi het die afgelope maand ’n hele paar projekte aangebied waarin hulle wys dat hulle ’n groot hart vir hul gemeenskap het.

In die gees van Mandela-dag, wat jaarliks landwyd in Julie gevier word en fokus op omgee vir mekaar, het die skool ’n hele maand gewy aan die uitbouing van hul gemeenskap.

Hulle het op Vrydag 13 Julie ingeskakel by die nasionale Hoop-projek waar geel lappe om bome se stamme gebind word om inwoners te herinner dat daar altyd hoop is.

Hulle het nie net die bome op hul skoolterrein versier nie, maar ook uitgereik na die gemeenskap.

Die skool en sy personeellede het ook van dié geleentheid gebruik gemaak om hulde te bring aan een van Thabazimbi se groot helde, Ertjies de Wit, wat groot insette by dié skool en in die gemeenskap gelewer het. De Wit is onlangs aan Covid-verwante oorsake oorlede.

“Ons het besluit om saam met die res van die dorp ’n bietjie hoop te saai en so ook ons kinders te leer hoekom dit belangrik is om ander te help,” het Rina Stander, ’n verteenwoordiger van die skool, gesê.

“Toe ons moes dink aan wat ons vir Mandela-dag kon doen, het ons dadelik aan Ertjies de Wit gedink. Hy was ’n baie goeie vriend van ons kleuterskool en het graag deelgeneem aan al ons projekte. Ons het daarom besluit om ’n kersie vir hom, en ander wat aan Covid-19-komplikasies dood is, aan te steek en hul lewens te vier.”

Die personeel van Kuikenden-kleuterskool het ook besoek afgelê by die Tambotie Mediese-sentrum om die personeel by dié kliniek te bederf met welverdiende lekkernye.

“Ons wou graag namens Kuikenden-kleuterskool dankie sê aan alle gesondheidswerkers op wie die dorp se inwoners in hierdie moeilike tye staatmaak,” het Stander afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button