BlogsOpinion

Hoofartikel: Vier die vroue in jou lewe

’n Jong Amerikaanse student het onlangs tydens ’n gesprek oor vroueregte die hart van vrouwees opgesom toe sy gesê het: “As ’n vrou ’n held nodig het, moet sy self een word.”

Vroue is sterk, liefdevol, goedhartig, getrou, gedrewe en soms ook taai — presies net soos ware heldinne.

’n Groep van meer as 20 000 vroue het sowat 65 jaar gelede na die Uniegebou in Pretoria opgeruk om beswaar te maak teen wetgewing wat daarop gemik was om die beweging van swart vroue in stedelike gebiede te verskerp.

Dit was nie bloot ’n rebellie nie; dit was nie ’n blote protesoptog nie; dit was ’n revolusie wat die weg gebaan het vir toekomstige vroueleiers en juis daarom vier Suid-Afrikaners elke jaar Vrouedag op 9 Augustus.

Die spreekwoord lui: “Agter elke suksesvolle man staan daar ’n vrou wat hom ondersteun,” maar dít wat ons veels te min hoor, is die alledaagse stories van hierdie vroue.

Ja, daar’s ’n vrou wat weet wat aangaan agter elke man, maar agter elke vrou en elke kind staan daar ’n groep vroue gereed met raad, ondersteuning, ’n sterk skouer om op te huil of ’n skoot waarin ’n mens aan die slaap gesus kan word.

“We have heard of men shaking in their trousers, but who ever heard of a woman shaking in her skirt?” het Lilian Ngoyi gevra toe sy as destydse leier van die ANC-vroueliga duisende vroue moes motiveer om saam met haar op te staan vir hul regte en na die Uniegebou op te trek.

Deesdae word sy geëer as kampvegter, baanbreker en ’n ware voorbeeld vir jong vroue regoor die wêreld.

Dink hierdie komende week aan die vroue in jou lewe en hoe hul opofferings, ondersteuning en onbaatsugtige liefde jou gevorm het tot die mens wat jy vandag is.

’n Paar jaar gelede het ’n joernalis vir die Russiese skrywer Ayn Rand gevra hoe sy dit regkry om braaf te bly en nie te skroom om grense te verskuif nie.

Haar antwoord was eenvoudig: “Die vraag is nie wie gaan my toelaat nie, maar eerder wie kan my keer.

Dit is ook met hierdie uitgangspunt dat talle Suid-Afrikaanse vroue dit oor die jare reggekry het om mense regoor die wêreld te inspireer. Ons dink byvoorbeeld aan dr. Elmi Muller, wêreldberoemde chirurg, wat die eerste MIV-tot-MIV-orgaanoorplanting ter wêreld gedoen het.

Ons dink aan Helen Suzmann wat haar platform gebruik het om teen die Apartheidsregering op te staan.

Ons dink aan die 12-jarige Johanna van der Merwe, wat selfs nadat sy 21 assegaaiwonde opgedoen het, steeds die durf gehad het om nabye Voortrekkerlaers te waarsku teen die aanvalle van die destydse Zoeloekoning Dingaan.

Ons dink aan Racheltjie de Beer, ’n jong meisie wat haar lewe verloor het toe sy tydens ’n sneeustorm haar broer teen die koue beskut het. Kom ons gebruik hierdie maand om hulde te bring aan ons vrouehelde — ons ma’s, oumas, tannies, niggies en susters.

Elke vrou wat op haar eie manier die wêreld ’n beter plek maak vir diegene naaste aan haar.

Related Articles

Back to top button