LettersOpinion

Brief: Jarelange stryd teen riool- en stortingsprobleme

Die party het in Februarie 2020 ’n klag by die Groen Skerpioene ingedien teen die Thabazimbi-munisipaliteit oor die onwettige bestuur van stortingsterreine.

Marcelle Maritz, Vryheidsfront-Plus (VF-Plus), provinsiale leier, Limpopo, skryf: 

Ek wil graag vir inwoners van die Waterberg ’n bietjie agtergrond gee oor die Vryheidsfront-Plus in Limpopo se uitgerekte stryd teen die riool- en stortingsterreinprobleme in ons dorpe.

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het in sy jaarlikse ouditverslag bevind dat 10 van die 11 vullisstortingsterreine in Limpopo nie aan die minimumvereistes voldoen nie. Net een voldoen aan meer as 80% van die minimumvereistes.

Die Groen Skerpioene het vier jaar gelede met ’n hofbevel by die Thabazimbi-munisipaliteit se stortingsterrein ingegryp, maar die situasie het nie verbeter nie. Die VF-Plus in Limpopo het in November 2019 verteenwoordigers van die Menseregtekommissie (MRK) op verskeie ondersoeke in die Mookgophong- en Thabazimbi-omgewing vergesel nadat inwoners gekla het oor rou riool wat in riviere en spruite gestort word.

Die party het in Februarie 2020 ’n klag by die Groen Skerpioene ingedien teen die Thabazimbi-munisipaliteit oor die onwettige bestuur van stortingsterreine. Dit het ’n gesondheidsgevaar vir mens en dier geskep deurdat vullis by die ingang van die terrein en in die pad gestort word.

Plaaslike abattoirs het selfs karkasse op die terrein gestort. Die MRK het in Maart 2020 positief gereageer op klagtes van die VF-Plus en die munisipaliteite van Modimolle-Mookgophong en Thabazimbi is elk ’n tydperk van 30 dae gegun om formeel te antwoord op die MRK se bevinding oor rioolbesoe- deling in dié gebiede.

Tydens die laaste besoek saam met die MRK se senior regsbeampte, dr. Eileen Carter, het ’n verteenwoordiger van die Thabazimbi-plaaslike munisipaliteit bevestig dat daar samesprekings was en dat terugvoer verwag word van ’n myn in die omgewing wat bereid is om te help met die nodige masjinerie om met die opruiming van die probleme te help.

Ek het die amptenaar van die betrokke departement ingelig dat daar optrede sou wees indien daar nie daadwerklik iets aan die saak gedoen word nie. Die MRK het ook in November 2020 ’n verhoor gehou oor die besoedeling in die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit.

Een van die belangrikste respondente in hierdie verhoor was Limpopo se departement van ekonomiese ontwikkeling en omgewingsake wat onder kruisondervraging erken het dat dié departement sukkel om strafregtelike sake te open rakende oortredings van Nasionale Omgewingsbestuurswetgewing.

Volgens dié getuie is dit omdat lede van die polisie en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) nie vertroud is met die prosedures om hierdie aangeleenthede te ondersoek of sake te open nie.

Ná volgehoue druk van die VF-Plus het Thabazimbi se plaaslike munisipaliteit wel ’n poging aangewend om met die nodige herstelwerk aan dié dorp se rioolstelsel te begin, asook met die opruiming van die stortingsterrein. Dit was egter van korte duur en die probleme het intussen toegeneem.

Teen Junie 2021 het die VF-Plus ’n saak teen Thabazimbi se munisipale bestuurder geopen vir oortredings ingevolge die Nasionale Omgewingsbewaringswet en die MRK het in Julie 2021 ’n strafregtelike klag teen die munisipale bestuurders van Modimolle-Mookgophong en Thabazimbi ingedien.

Dit is ’n lang stryd wat nog nie gewenste resultate opgelewer het nie, maar die VF-Plus sal aanhou om dit te stry in die belang van al die inwoners van die omgewing.

Om handdoek in te gooi, is nie ’n opsie nie. Dit is die reg van elke persoon in die land om in ’n gesonde omgewing te leef en werk.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button