Local MotoringMotoring

VLU maak bederfpakkies

Die vroue van die Vroue Landbou-unie (VLU) se Naboomspruit-tak het op Dinsdag 20 Julie bederfpakkies by die Tuiste vir Bejaardes in Mookgophong afgelaai.

Dié bederfpakkies was hoofsaaklik vir die Alzheimer-pasiënte en het bestaan uit warm gebreide wolhandskoene, snoesige bedsokkies en ’n heerlike eetding om die geniepsige winterkoue teë te werk.

Die vroue het gesê hulle wou graag aan die bejaardes ’n bietjie troos bring nadat hulle vir lank al in afsondering weens die Covid-19-pandemie was en nie toegelaat is om besoeke van hul geliefdes te ontvang nie.

Dié tak het op die oggend ook hul maandvergadering by Pulani Park net buite Mookgophong gehou. Hulle is tydens die vergadering toegespreek deur Lilian Weber, voorsitter van Soetdoring-streek, wat die lede geprys het vir hul aktiewe bydrae tot die verryking van die gemeenskap en hul ander werksaamhede.

Vroue wat deel is van die Naboomspruit-tak hou gereeld werksklasse waar hulle nuwe vaardighede aanleer en by kreatiewe projekte betrokke raak.

Alle vroue (oud en jonk) word genooi om by die tak aan te sluit.

Die volgende werksessie is op Donderdag 5 Augustus en die maandvergadering sal op Dinsdag 10 Augustus plaasvind. Daar sal streng by Covid-19-protokol gehou word.

Vir navrae bel vir Wendy Engelbrecht by tel. 074 893 9618 of besoek hul Facebook-blad.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button