Local newsNews

Baanbreker-plantkenner oorlede

Die bekende en gerespekteerde natuurkenner, Hans Vahrmeijer (78) van Bela-Bela, is op Saterdag 17 Julie in die Phodi Clinic in die dorp oorlede.

Vahrmeijer het in die dae voor sy dood chemoterapie vir beenmurgkanker, wat reeds in ’n gevorderde stadium was, ontvang.

Vahrmeijer is in 1942 in Zoeterwoude, Nederland, gebore. Volgens sy familie het hulle in 1950 na Suid-Afrika verhuis omdat die warmer klimaat meer geskik was vir Vahrmeijer, wat met ’n ernstige en pynlike beensiekte gediagnoseer is.

Die gesin het hulle in die Hartbeespoort-omgewing gevestig. Hy het sy laerskoolloopbaan in Hartbeespoort en later sy hoërskoolopleiding in Brits voltooi. Vahrmeijer het hom by die Suid-Afrikaanse Weermag se spesiale magte aangesluit.

Hy het daarna ’n handleiding vir oorlewing in die natuur saamgestel en was ook lid van die Selous Scouts wat deelgeneem het aan die Rhodesiese-bosoorlog in die vroeë 1970’s. Vahrmeijer het ’n meestersgraad in plantkunde aan die Potchefstroomse Universiteit (nou die Noordwes Universiteit) behaal.

Hy het na afloop van sy studies by die destydse departement van tegniese dienste van die Pretoria-stadsraad begin werk. Die botaniese tuin het onder hierdie afdeling geval.

Sy uitgebreide kennis oor gifplante het van hom ’n wêrelddeskundige gemaak en hy was ook stigterslid van die nasionale gifsentrum.

Hy het ná sy aftrede steeds plante vir die sentrum versamel. Hy het die land tydens sy loopbaan deurkruis op studiereise. Hy is die taak opgelê om inheemse bome langs ons land se paaie uit te ken en aan te teken.

Volgens sy familie het hy ’n besondere gawe gehad om plante aan hul unieke reuk uit te ken. Dit is ’n vaardigheid wat hy goed aangewend het hy in sy loopbaan. Hy het talle boeke geskryf waaronder ’n boek oor giftige plante wat veevrektes veroorsaak. Hierdie boek word vandag steeds deur universiteite as handleiding gebruik.

Hy het verder ’n groot bydrae gelewer tot die eerste nasionale lys van inheemse bome en was in die proses om ’n boek oor die medisinale plante van die Khoisan’s te publiseer.

Vahrmeijer se eerste vrou, Mada, ’n onderwyser en dosent by die destydse Pretoria Technikon, is in 2002 dood. Hy en sy tweede vrou, Cecelia, het hulle ná sy aftrede in Bela-Bela gevestig.

Die gesin onthou met ’n glimlag hoe hy twee jong krokodille van die Kariba-dam in Zimbabwe na die botaniese tuin in Pretoria gebring het. Die twee jong krokodille, met die name Krokkie en Dil, was die bron van baie staaltjies en het baie hoofbrekens besorg en moes gereeld in koelhouers verskuif word.

Hulle onthou ook hoe hulle ’n magdom insekte moes vang om die twee krokodille se dieet aan te vul. Dit is kosbare herinneringe en ervarings wat hulle vir altyd sal koester.

Krokkie en Dil het in 2002 permanente inwoners van die Pretoria-dieretuin geword. Die twee ander “weeskinders” wat hy versorg het, was ’n apie en ’n ystervark. Hierdie twee diere het groot pret veroorsaak en die familie lag nou nog oor hul manewales.

Vahrmeijer was ’n toegewyde Christen en het gereeld artikels vir die kerkblad geskryf. Hy was ook baie betrokke by die onderskeie gemeentes waarvan hy lid was.

Dries de Klerk, een van sy vriende, het aan Die Pos gesê hy kan Vahrmeijer in drie woorde opsom: Godsman, gesinsman en volksman.

“Hy was lief vir kinders en was die eerste Voortrekker-kommandant in die Welbekend-omgewing. Hy het in dié beweging sy kennis oor die veld en plante uitgeleef en graag sy kennnis oor die veld met jongmense gedeel.”

Sy familie het gesê hulle eer hom as ’n man van formaat en ’n wonderlike vaderfiguuur vir sy uitgebreide familie.

Sy begrafnis het op Vrydag 23 Julie in die dorp se begraafplaas plaasgevind.

Related Articles

Back to top button