Local newsNews

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg?

Mack Boshoff (66), bekende bonsaikweker van Pienaarsrivier, is op Donderdag 22 Julie in die Phodi-kliniek in Bela-Bela aan Covid-19-komplikasies oorlede. Die Waterberg-bonsaiklub, waarvan hy ’n lid was, het sy geesdrif en kennis as aansteeklik beskou en hom as ’n inspirasie vir lede beskryf. Boshoff het ’n boek, Bonsai — The Strangler Phenomenon, gepubliseer. Boshoff was oorspronklik van Dunnottar en het sedert 1973 as omgewingsgesondheidspraktisyn gewerk. Hy was tien jaar lank voorsitter van die Oos Rand-bonsaiklub. Hy het ook vier jaar lank as president van die Bonsai Assosiasie van Transvaal gedien. Hy het in 2015 afgetree en na Pienaarsrivier verhuis. Die klub sal hom onthou as ’n goeie raadgewer en geesdriftige bonsailiefhebber. Die klub deel hul innige meegevoel met sy familie en vriende. ’n Spesiale diens word in KwaZulu-Natal vir Boshoff gehou.
Inwoners van Bela-Bela het op Donderdag 22 Julie op die parkeerterrein van die Phodi Clinic in die dorp byeengekom om vir die gemeenskap, en in besonder die pasiënte en personeellede van die hospitale in die omgewing, te bid. Die gemeenskap is diep deur die Covid-19-pandemie getref. Verskeie sterfgevalle is aangeteken en talle mense het siek geword. Gesondheidswerkers is onder groot druk en werk baie lang ure onder stresvolle omstandighede om pasiënte te versorg. Die foto is tydens die gebedsbyeenkoms geneem.
Daar is geen einde aan die goedheid van die Bela-Bela-gemeenskap nie. ’n Groep weldoeners, wat verkies om anoniem te bly, het die afgelope week 100 splinternuwe warm komberse en kussings aan die Phodi Clinic in die dorp geskenk. “Dit is koud en die hospitaal het die nuwe linne dringend nodig gehad,” het een van die barmhartiges aan Die Pos gesê. Op die foto is van die personeellede en weldoeners by die skenking.
Lede van die Bela-Bela-polisie het op Dinsdag 27 Julie ’n lekker verrassing gehad toe gemeenskapslede die polisiestasie met skinkborde kos en lekkernye besoek het. Die doel van die besoek was om die beamptes te bedank vir hul volgehoue diens en opoffering aan die gemeenskap tydens die Covid-19-pandemie. Op die foto is Rika Kruger, Caro Muller, Stefanie Henning en Hendrieka van Heerden met van die lekkernye.

Related Articles

Back to top button