Local newsNews

Bekende egpaar sterf twee maande uit mekaar

Die bekende en beminde Piet (85) en Rita (79) Steenkamp van Mookgophong is presies twee maande uit mekaar dood.

Die egpaar het op Donderdag 1 April vanjaar hul sestigste huweliksherdenking gevier.

Piet het gevorderde lewerkanker gehad en is op Saterdag 22 Mei oorlede en Rita het op Donderdag 22 Julie aan Covid-19-verwante komplikasies gesterf.

Volgens Santie Duvenhage, die Steenkamp-egpaar se dogter, was dit ’n swaar slag om albei hul ouers so kort na mekaar te verloor.

Piet is op 13 Julie 1935 gebore en het op 14-jarige ouderdom vanaf Kliprivier in die Vereeniging-omgewing met ’n wa en osse na die Bosveld getrek.

“My oupa het hierheen getrek omdat hy ’n borskwaal gehad het. Hy het op aanbeveling na ’n warmer klimaat verhuis,” het Duvenhage aan Die Pos vertel.

Hy het ’n groot plaas op Crecy gekoop waar daar vandag nog van die Steenkamp-familie woon. Piet was ’n boer in murg en been en het 71 jaar in Crecy en Mookgophong gewoon.

Hy het met groente geboer. Hy het tot kort voor sy dood nog Roedtan toe gery om sy seun, Barend Steenkamp, by te staan met sekere boerdery-aspekte. Duvenhage vertel met nostalgie van al die staaltjies wat haar pa oor die jare vertel het.

Hy het graag aan die jonger mense vertel hoe hy en sy tydgenote op ’n Vrydagmiddag ná skool sommer die ent tussen Mookgophong en Crecy te voet afgelê het.

Rita is op 14 Februarie 1942 in Krugersdorp gebore. Sy was sewe jaar oud toe haar gesin na Groblersdal verhuis het waar Rita skoolgaan en matriek geskryf het.

Sy het haar loopbaan as bewaarder by die gevangenis in Modimolle begin. Sy het vir Piet as 19-jarige op ’n toe-oog-afspraak ontmoet en hy het haar voete onder haar uitgeslaan.

Rita het in 2016 tydens ’n onderhoud met Die Pos gesê sy het baie lesse in die lewe geleer, maar die een wat altyd bly staan is die feit dat die Here altyd voorsien. Sy het in 1963 ’n dogtertjie van een jaar aan die dood afgestaan.

“Ons was baie arm en het nie geld gehad om by familie in Pretoria te kom nadat ons haar by die hospitaal afgelaai het nie. My man het sy hand in sy baadjie se sak gesteek en daar het hy onverwags ’n vyf pondnoot gekry. Só het die Here ook daardie dag voorsien,” het sy destyds vertel.

Sy het geglo dat die Here altyd in beheer is en was opgewonde oor die toekoms van Suid-Afrika. Die egpaar laat drie dogters, Santie, Petra, Rika en een seun, Barend Steenkamp, agter.

Hulle het 12 kleinkinders en nege agterkleinkinders. Hulle kinders en kleinkinders is baie dankbaar vir al die lewenslesse wat hulle nalaat.

Related Articles

Back to top button