Local newsNews

Openbare vergaderings, nuwe toerusting en opruimingswerk

Klein dorpies in die Waterberg was vanjaar gereeld in die nuus oor swak dienslewering, maar daar is darem ook goeie nuus en vooruitgang.

Die Pos het in April vanjaar berig oor die privaat skrootwerf in Vaalwater wat verskuif na ’n nuwe perseel sodat die ingang na die dorp nie meer ’n seeroog is nie.

Deel van die samesprekings tussen Russell Sadler, eienaar van die skrootwerf, en die Waterberg Development Initiative (WDI) was om ’n opruimingsplan vir Vaalwater daar te stel.

Daar word sedert Mei, in samewerking met die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, een dag per maand gebruik om die dorp en omgewing skoon te maak.

Marlene van Staden, burgemeester van dié munisipaliteit waaronder Vaalwater val, het tydens ’n onderhoud aan Die Pos gesê volgehoue samewerking van die gemeenskap sal die sukses van die projek bepaal.

“As elke inwoner, skool, instansie en sakelui net hul eie perseel en straataansig skoon hou, sal toeriste graag in Vaalwater besoek aflê.”

Verskeie amptenare en departemente soos die department van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme (Ledet), die Vaalwater-kliniek, die departemente van gesondheid, openbare werke en omgewingsake en Working on Fire (WOF) het reeds kragte saamgesnoer om die omgewing te help skoonhou.

Volgens Van Staden sal ’n laaigraaf ter waarde van ongeveer R300 000 eersdaags ingespan word om met die opgradering van oorhoofse kragkabels in die landelike gebied buite Vaalwater te help.

’n Nuwe vurkhyser sal uitsluitlik by die munisipaliteit se stoor in Modimolle gebruik word vir die op- en aflaai van materiaal en toerusting.

Sy het voorts gesê ’n nuwe vragmotor met hysmeganisme is onlangs teen ongeveer R1 miljoen aangeskaf met die uitsluitlike doel om in Modimolle gebruik te word om foute aan oorhoofse kragdrade en straatligte te herstel.

Dit word ook gebruik om boomtakke te snoei wat kragdrade kan beskadig.

“Die materiaal en onderdele om bykans 1 000 straatligte in Modimolle te herstel, is reeds ontvang,” het sy aan Die Pos gesê.

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit sal ook eersdaags begin met aanlyn-openbare vergaderings vir elkeen van die 14 wyke.

Die vergaderings word vanaf Maandag 26 Julie tot Vrydag 6 Augustus oor twee weke geskeduleer.

Volgens die burgemeester sal die behoeftes, uitdagings en beoogde projekte in elke wyk tydens hierdie vergaderings bespreek word. Die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) sal ook bespreek word.

Inwoners wat aanlyn wil inskakel kan hul wyksraadslid vir meer inligting vra.

  • Onwettige stortings in die Vaalwater-omgewing kan aangemeld word by Magda Berrange, direkteur van sosiale dienste en vullisverwydering, by tel. 063 252 8140.

Related Articles

Back to top button