Local newsNews

Voorlopige oplossing vir watertekort in Noodhulp

Daar is die afgelope week vordering gemaak om die dreigende waterkrisis in Noodhulp buite Bela-Bela te help afweer.

Grondeienaars het begin Junie aangedui dat boorgate in die omgewing opdroog omdat die ondergrondse watertafel vermoedelik op sekere plekke aansienlik gesak het.

Tinus Ras, DA-raadslid, het ná ’n vergadering met inwoners onderneem om ’n oplossing te probeer vind.

Volgens hom is ’n ou munisipale boorgat by die verlate Outpost-ontwikkeling op die R516-pad buite die dorp opgespoor.

“Ons het ontdek dat die transformator wat krag aan dié boorgat voorsien het, gesteel is en dat die boorgat nie in ’n werkende toestand is nie. Ek kon daarin slaag om ’n watertenk, drukpomp, kragmeter, asook watermeter te bekom.”

Die doel van die projek is om huishoudelike water aan inwoners in die omgewing te verskaf.

Volgens Ras sal die tenk binne ’n privaat perseel staan en inwoners van die omgewing wat deur die watertekort geraak word, sal by die tenk water kan tap. Die kraan sal onder slot en grendel gehou word, het Ras gesê.

Daar moet nog besluit word hoe inwoners gekontroleerde toegangsbeheer kan verkry en ook hoe inwoners vir die verbruikerskoste van die waterpunt moet bydra.

’n Verdere vergadering met inwoners word vir hierdie week beplan. Streng Covid-19-protokol sal gevolg word.

Navrae kan aan Ras gerig word by tel. 082 650 1185.

Related Articles

Back to top button