Local newsNews

Nóg ’n Modimolle-inwoner sterf weens Covid-19

Bykans ’n jaar nadat Ester van Rensburg (66) saam met haar man, Willem, in Modimolle afgetree het, is sy op Donderdag 15 Julie onverwags aan Covid-19-verwante komplikasies oorlede.

Die egpaar, wat 29 jaar getroud was, het net die week tevore in hul eie huis ingetrek nadat hulle die afgelope jaar ’n huis in Modimolle gehuur het.

Volgens Willem het Ester op Dinsdag 29 Junie erge asemnood ervaar waarna sy in die Pretoria Oos-hospitaal vir behandeling opgeneem is.

Haar toestand het egter nie verbeter nie en sy is op Vrydag 9 Julie na die hoësorg- eenheid geskuif waar sy twee dae later aan ’n ventilator gekoppel moes word. Sy het vier dae later gesterf.

Volgens haar eggenoot het Ester ’n passie vir liefdadigheidswerk gehad en was sy etlike jare by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) betrokke. Sy het ook vrywillige traumaberading gedoen.

Sy was baie jare ’n verpleegkundige en het op 50-jarige ouderdom ’n graad in sielkunde verwerf, het hy vertel.

Sy was baie kunstig en ’n bobaaskok wat graag gaste onthaal het.

Volgens ’n baie hegte vriendin in Modimolle, Alberta van Jaarsveld, kon Ester enige vertrek wat sy betree ophelder met haar liefdevolle geaardheid en aansteeklike lag. Sy het ’n positiewe impak op mense gehad en haar geloof met oorgawe uitgeleef.

“Ester se werk as ’n engel op aarde is voltooi. Sy sit nou by die voete van die Vader,” het sy gesê.

Sy laat haar eggenoot en twee stiefdogters, Monique (34) en Mischka (32), en drie kleinkinders, Tyler (17), Josh (12) en Aurora (4) agter.

Die gedenkdiens sal op Donderdag 22 Julie om 11:00 vanuit die Koinonia-kerk in Modimolle plaasvind.

Related Articles

Back to top button