Local newsNews

Geel bome bring hoop in Thabazimbi se strate

Weldoeners van Thabazimbi het vir dié dorp se inwoners ’n boodskap van hoop gebring deur talle bome in die dorp in geel te tooi.

“Bome van Hoop is ’n projek wat daarop gemik is om mense weer hoop te gee,” het Marilé Coetzee, een van die weldoeners, aan Die Pos gesê.

“Ons hoop om hierdeur almal in die dorp betrokke te kry en uiteindelik ook geld in te samel vir mense wat swaarkry tydens die landwye inperkings.”

Volgens haar smag mense na hoop en wanneer hulle verby dié geel bome ry, word inwoners en besoekers daaraan herinner dat die son weer sal skyn en daar altyd hoop is.

Liza Yssel, Elsie Phago en Jan Maluleke van Spur en Total in Thabazimbi wys hul ondersteuning vir die Bome van Hoop-projek deur helder geel lap om die doringboom by die ingang na die vulstasie te bind.

Talle mense het die afgelope jaar siek geword, hul werke verloor, sakeondernemings moes hul deure sluit en mense gaan gebuk onder finansiële spanning. Die afgelope jaar was ook baie spanningsvol vir ouers, leer- ders en onderwysers en ook sportlui moes hul oefenskoene tydelik ophang.

Wanneer inwoners egter deesdae deur die dorp ry en die heldergeel lappe om die boomstamme sien, word die boodskap van hoop verkondig.

Die SAE-instituut, een van die wêreld se voorste kreatiewe media-instansies, beskryf geel as die kleur van vreugde, energie, geluk en natuurlik hoop en vir Liza Yssel is dit juis om dié rede dat die projek aangepak is.

Deidré van den Berg van Thabazimbi het haar steun aan die Bome van Hoop-projek gegee.

“Ons hoop om met hierdie projek daarin te slaag om mense weer bewus te maak van ander se swaarkry. Wanneer hulle by die geel bome verbyry, hoop ons dit sal hulle daaraan herinner om dié mense in hul harte en gebede te hou.”

“Vir my persoonlik beteken die Bome van Hoop-projek dat ons hoop vir die toekoms moet hê en ook hoop aan ander mense moet gee. As alles om ons donker en swaar is, moet ons moed skep wanneer ons verby ’n geel boom stap of ry,” het sy gesê.

“Die projek begin by ’n geel lap om ’n boomstam,” het Marilé Coetzee verduidelik, “maar die hoofdoel is om behoeftige mense om ons te help”.

Volgens Coetzee kan enigiemand, op die kleinste moontlike manier, ’n groot verskil maak.

“Al is dit met ’n bottel vol sopbestanddele of ’n blik beskuit vir iemand in kwarantyn, ’n geel pakkie lekkers met ’n briefie daarby of iets kleins wat weer ’n glimlag op iemand se gesig sit. Ons almal kan ’n bydrae lewer om ’n bietjie hoop in ons gemeenskap te bring.”

Deidré van den Berg beskryf die projek as ’n goeie manier om mense weer daaraan te herinner om ander se swaarkry raak te sien.

“Sonskyngeel beteken hoop,” verduidelik sy.

“Bome van Hoop herinner ons in Thabazimbi en ons land se mense dat liefde, vreugde en geloof selfs in swaar tye weer sigbaar kan word en dat daar ’n beter môre sal wees.”

Thane Hearne, die Thabazimbi-munisipaliteit se speaker, en Gladwin Tloubatla, waarnemende munisipale bestuurder, het op hul beurt ook hul steun aan die projek gegee en lede van die publiek aangemoedig om deel te neem aan dié projek.

“Thabazimbi, Northam en die omliggende omgewing is diep getref deur die derde golf van Covid-19. Baie mense is siek en baie van ons inwoners het geliefdes, familie en vriende aan die dood afgestaan. Ons mediese personeel is onder geweldige druk en werk baie hard onder moeilike omstandighede. Ons kerkleiers is voortdurend besig om emosionele en geestelike berading te gee aan mense wat hulle in hartverskeurende omstandighede bevind,” het Hearne gesê.

“Thabazimbi is ’n klein dorpie en tydens hierdie pandemie het ons inwoners, gesinne, vriende en kennisse saamgestaan en mekaar ondersteun. Die projek is ’n manier om ons dorp daaraan te herinner dat daar altyd hoop is. Die munisipaliteit gee sy volle steun aan die projek,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button