Local newsNews

Covid eis nóg ’n bekende Bela-Bela-inwoner

Wynand Booysen snr. (56) is op Maandag 12 Julie in die Moot-hospitaal in Pretoria aan Covid-19-verwante komplikasies oorlede.

Volgens sy familie het hy op Vrydag 2 Julie sy dokter besoek omdat hy siek gevoel het.

Hy is op Dinsdag 6 Julie positief getoets vir Covid-19. Sy gesondheid het bly versleg en hy is op Woensdag 7 Julie in die Moot opgeneem.

Sy familie is op Maandag 12 Julie laat weet om hospitaal toe te kom om hom te groet, maar met hul aankoms was hy reeds oorlede.

Booysen het 30 jaar by Telkom as tegnikus gewerk waarna hy die afgelope agt jaar die Mopani Exel-vulstasie in die dorp bestuur het. Booysen was baie trots op sy drie seuns en het graag oor hulle gepraat.

Hy was ’n kranige hengelaar en het diep spore in rugbykringe getrap. Hy was ten tyde van sy dood vir die tweede termyn visepresident van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU) se Waterbergstreek.

Volgens Drummond Hammond, voorsitter van die Kwagga-rugbyklub van Bela-Bela, was Booysen ’n kranige skrumskakel van die klub. Sy bynaam was Kwagga en dit is juis waar die klub sy naam gekry het.

Hy was ook klubpresident en voorheen voorsitter van dié klub. Hy was drie jaar lid van Hoërskool Warmbad se beheerliggaam en was die dryfveer agter die nuwe spreiligte wat op die terrein aangebring is.

Booysen en sy vrou, Koba, het 34 jaar gelede op ’n toeoogafspraak ontmoet en was 33 jaar gelukkig getroud.

Sy het hom as ’n wonderlik huispa, anker en rots beskryf en gesê hy was ’n wonderlike voorbeeld vir sy seuns Wynand, Dirk en Ricardo.

“Rugby gaan nooit weer dieselfde wees nie. Ons sal hom in ons harte saamdra en vir altyd vir hom lief bly.”

Sy gesin het gesê hulle vind vertroosting in die wonderlike herinneringe wat hulle saam opgebou het.

Sy broers, Rocco en Riaan, kon nie vir ’n beter “ouboet” vra nie. Hulle het aan Die Pos gesê:

“Hy was ’n besonderse mens wat baie harte aangeraak het met sy vinnige glimlag en vriendelike geaardheid. Ons sien steeds sy glimlag in elke braaivleisvuurtjie.”

Booysen se begrafnisreëlings was teen druktyd nog nie gefinaliseer nie.

Related Articles

Back to top button