Local newsNews

Geliefde inwoner van Vaalwater sterf

’n Geliefde inwoner van Vaalwater, Anne-Marie Coetzer, is op Woensdag 30 Junie ná ’n kort siekbed aan Covid-19-verwante komplikasies oorlede.

Volgens Coetzer se gesin het sy op Maandag 14 Junie positief getoets vir Covid-19. Sy is op Saterdag 18 Junie in die Mediclinic-privaathospitaal in Lephalale opgeneem.

Volgens die verpleegpersoneel het haar toestand heeltyd gewissel, maar teen Dinsdag 29 Junie het haar gesondheid erg versleg.

Die personeel het dringend begin soek na ’n beskikbare bed in ’n hoësorgeenheid in Limpopo en die gesin is die volgende dag in kennis gestel dat sy per helikopter oorgeplaas sou word sodra al die nodige toestemming van haar mediese fonds verkry is.

Volgens die gesin was die helikopter reeds op pad om haar te gaan haal toe sy dieselfde dag omstreeks 17:30 gesterf het.

Coetzer en haar eggenoot van 22 jaar, Kian, is die eienaars van Vaalwater Besproeiing, ’n suksesvolle sakeonderneming wat besproeiingstelsels installeer en boorgate toerus.

Kian het in die begrafnisbrief gesê:

“Die pad vorentoe gaan nie maklik wees nie, maar die herinnering aan ’n wonderlike lewe saam met jou sal my dra. Jy is die beste ding wat met my gebeur het. Ek sal mooi na jou dogters, skoonseuns en kleinkinders omsien — net soos jy dit sou gedoen het.”

Nadia Salazar, die egpaar se middelste dogter, het aan Die Pos vertel sy en haar man, Armando Salazar, werk al langer as tien jaar saam met haar ouers by hul sakeonderneming.

Nadia onthou haar ma as ’n liefdevolle, vrygewige mens wat graag haar kinders en kleinkinders met geskenkies, gunstelinggeregte, plantjies uit haar tuin, gehekelde komberse en tafellappies bederf het.

“Ons twee se spesiale koffiegeselstyd was op Saterdagoggende,” het sy gesê.

“Ons seuntjie, Nathan (3), mis sy ouma ontsettend baie en kan nie verstaan dat hy haar nie weer gaan sien nie.”

Chanel Smook, die egpaar se oudste dogter, woon tans in Australië met haar man, Du Toit, en twee kinders, Kara (10) en Stefan (8). Die egpaar se jongste dogter, Lizel, is twee jaar gelede oorlede.

Chanel het in die begrafnisbrief gesê:

“Ma was my beste vriendin en steunpilaar met die beste raad. Ma se omgee-hart het ander mense eerste gestel en Ma het altyd vir ons gesê — wees maar die minste. Ek is so dankbaar vir alles wat ek by Ma kon leer, maar die meeste dankbaar vir Ma se onvoorwaardelike liefde en ondersteuning.”

Marie Koekemoer, Anne-Marie se ma wat die afgelope 14 jaar by die gesin op hul plaas gewoon het, is ook in die hospitaal opgeneem vir Covid-19-behandeling, maar is gelukkig intussen ontslaan.

Anne-Marie laat haar man, twee dogters en hul eggenotes, drie kleinkinders en familie en vriende agter.

Die gedenkdiens het op Woensdag 7 Julie vanuit die Nederduits Hervormde Kerk in Vaalwater plaasgevind.

Related Articles

Back to top button