Local newsNews

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg?

Die bestuurder van ’n swaarvoertuig het op Saterdag 10 Julie beheer oor die voertuig verloor en dit het omgeslaan. Die ongeluk het by die Pienaarsrivier-afrit vanaf die N1-snelweg gebeur. Die trok was op pad in die rigting van Gauteng. Verkeer is geruime tyd vertraag terwyl opruimingswerk gedoen is. Die toneel is later die middag oopgestel vir verkeer nadat die trok verwyder is. Die bestuurder het na verneem word slegs ligte beserings opgedoen.
Guy Emslie (85), bekende sakeman van die Waterberg, is op Saterdag 10 Julie aan Covid-19-verwante oorsake oorlede terwyl hy onderweg was na die Podi Clinic in Bela-Bela. Hy was veral as sakeman in die Lephalale-omgewing bekend waar hy verskeie geboue besit. Ná sy aftrede het hy en sy vrou, Blanche (saam met hom op die foto) na die Kokanje-aftreoord buite Modimolle verhuis waar hulle die afgelope paar jaar woon. Emslie word oorleef deur sy vrou, Blanche, en drie seuns Robert, Victor en Don Emslie en hul gesinne.
Foto aangeheg: Die Delta-variant van die Covid-19-virus saai verwoesting met stygende infeksiesyfers en talle mense wat hul stryd teen dié siekte verloor. Die departement van gesondheid, asook talle apteekgroepe in die privaat sektor, dien tans entstowwe toe vir mense bo 50. Mense tussen die ouderdomme 35 en 49 kon op Donderdag 15 Julie begin registreer vir die entstof. Die inentings vir hierdie ouderdomsgroep sal na verwagting op Sondag 1 Augustus begin. Op die foto sit ’n groep mense voor die Van Heerden Apteek by die Bela Mall in Bela-Bela. Foto: Herman Steyn
Mense ouer as 50 staan op Vrydag 9 Julie tou by die MDR-hospitaal in Modimolle om ingeënt te word teen die Covid-19-virus. Skole se administratiewe- en beheerliggaamspersoneel kon ook op dié dag geënt word. Die registrasie vir mense ouer as 35 wat ingeënt wil word, sou na alle verwagting vandeesweek afskop.
Ben en Justine Hefer van Bela-Bela het op Donderdag 15 Julie hul 60ste huweliksherdenking gevier. Ben was voor sy aftrede ’n eiendomsagent en het onder meer vir Pam Golding en Koos van der Merwe Eiendomme in Bela-Bela gewerk. Justine is ’n huisvrou. Die egpaar woon sedert 2004 in die dorp. Hulle geniet steeds ’n vol lewe en die familie en vriende wens hulle nog baie jare van gesondheid en liefde toe.
Maurÿn Heila du Toit, wat al 19 jaar ’n inwoner van die Warmbad Rusoord se tehuis vir bejaardes is, het op Woensdag 14 Julie haar 100ste verjaardag gevier. Du Toit is in Julie 1921 in Indwe in die Oos-Kaap gebore. Sy het in Potchefstroom onderwys studeer waar sy haar lewensmaat, Wouter du Toit, ontmoet het. Hulle is in 1943 getroud en het vier kinders gehad. Die egpaar het saam hul onderwysloopbane by Hoërskool Die Fakkel in Johannesburg begin en in 1981 na Droogekloof buite Bela-Bela verhuis. Du Toit is die trotse en geliefde ouma van nege kleinkinders, 16 agterkleinkinders en een agteragterkleindogter. Haar familie, vriende en die gemeenskap wens haar ’n wonderlike en geseënde nuwe lewensjaar toe.

Related Articles

Back to top button