Local newsNews

Lord Milner-skoolhoof sterf aan Covid

"Hy het vir die Here en sy gesin geleef, was ’n vredemaker en het die vermoë gehad om ander te kalmeer."

Etienne Burger (56), skoolhoof van Lord Milner Primary School in Settlers, is op Sondagoggend 4 Julie onverwags oorlede aan Covid-19-verwante komplikasies.

Burger is in Januarie vanjaar as skoolhoof aangestel nadat hy sedert 2018 waarnemende hoof was. Hy was van Augustus 2014 tot September 2016 hoof van Hoërskool Nylstroom in Modimolle en voorheen ook waarnemende adjunkhoof van Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen.

Annelize Burger, sy vrou van die afgelope 32 jaar, het in reaksie aan Die Pos gesê sy het eerste Covid-19 opgedoen, maar intussen volkome herstel.

“Etienne is aanvanklik negatief getoets, maar omdat hy steeds olik gevoel het, is hy weer getoets en op Woensdag 30 Junie was die toetsuitslae positief. Hy het antibiotika en ekstra vitamienes gedrink en teen Saterdag 3 Julie het hy beter gevoel,” het sy gesê.

“Etienne se toestand het egter skielik verswak en teen Sondagoggend omstreeks 09:00 het hy só gehyg na asem dat ek dadelik die hulp van ons buurman, Bushie Mostert, ingeroep het,” vertel sy.

Mostert, ’n onderwyser by die skool, en sy gesin woon langs die Burgers op Lord Milner School se perseel. Aangesien die naaste hospitaal in Bela-Bela, ongeveer 35 km weg is, is die nooddienste ontbied.

Annelize het gesê terwyl hulle op die nooddienste gewag het, het Etienne se pols- slag al hoe swakker geword totdat hy uiteindelik sy bewussyn verloor het. Hy is om 10:15 amptelik deur nooddienswerkers van Life24 dood verklaar.

Mostert het vertel dat hy by Annelize gebly het totdat die egpaar se seun, Gian Burger, wat in Roodepoort Gauteng woon, opgedaag het om sy ma te onderskraag.

Die egpaar se dogter, Esli, woon in Somerset-Wes in die Wes-Kaap en was teen druktyd besig met reisplanne.

Annelize onthou haar man as ’n begaafde en veelsydige mens met ’n passie vir die lewe.

“Hy het vir die Here en sy gesin geleef. Hy was ’n goeie pa vir ons twee kinders, Gian (31) en Esli (27). Hy was ’n vredemaker en het die vermoë gehad om ander te kalmeer en vure dood te slaan. Hy het nooit sleg van mense gepraat nie en altyd die positiewe in ander raakgesien,” het sy gesê.

Volgens Gian was sy pa altyd betrokke in sy lewe en ’n goeie voorbeeld vir hom en sy sussie.

“My pa het sterk gestaan in sy geloof en was besonder lief vir gospelmusiek. In sy jonger dae was hy ’n talentvolle sportman wat later hierdie kennis en ondervinding aan leerders oorgedra het tydens atletiek- en rugbyafrigting.”

Alta Hitchcock, waarnemende adjunkhoof en hoof van die grondslagfase by Lord Milner School, het aan Die Pos gesê sy sal Burger onthou as ’n liefdevolle mens wat altyd leerders en personeel aangemoedig het.

Sy vertel dat Burger, ten spyte van sy persoonlike gesondheidstryd, sonder weifeling ingetree het toe die destydse hoof, Hector van Aardt, skielik in April 2018 oorlede is.

Hitchcock het aan Die Pos gesê Burger kon plofbare situasies met wysheid ontlont en het ’n saggeaarde aanslag gehad. Volgens haar was dit sy missie in die lewe om mense na die Here te lei.

“Burger het met geesdrif deelgeneem aan skoolaktiwiteite en selfs in die snoepie gehelp wanneer daar ’n skooldans gehou is,” het sy gesê.

“Ons sal altyd die woorde onthou wat hy Vrydagoggende tydens saalopening aan die leerders gesê het: You must know, I love you from the bottom of my heart.”

Burger laat sy vrou Annelize, dogter Esli, seun Gian en kleinseun Ethan (7) agter.

Related Articles

Back to top button