Local newsNews

Tehuis vir Bejaardes loop deur onder virus

Die Naboom Tehuis vir Bejaardes is die afgelope week diep deur die Covid-19-virus getref.

Hercules Louw, bestuurder van die tehuis, het aan Die Pos gesê altesame 19 positiewe gevalle is die afgelope week aangemeld. Vier van dié mense is op Dinsdag 6 Julie per ambulans na verskillende hospitale geneem.

Dié wat minder ernstig siek is, word by die tehuis behandel en is in isolasie geplaas.

Louw het aan Die Pos gesê niemand se toestand word as “kritiek” beskou nie, maar hulle wil geen kanse waag nie.

Die eerste positiewe geval is op Vrydag 2 Julie aangemeld toe die persoon gehospitaliseer is weens ’n nieverwante siekte. Dié persoon is ’n inwoner van die Lewensvreug-woonstelle wat op dieselfde terrein as die tehuis is.

“Die volgende dag is die inwoner se buurvrou, wat haar besoek het, ook positief getoets,” het Louw gesê.

Inwoners van die hoofgebou het ook die virus opgedoen en die Blou gang, waar die Alzheimer- en Parkinsons-pasiënte woon, het die ergste deurgeloop.

Toegang na en van die terrein is dieselfde dag met onmiddelike effek gestaak. Die hele gebou en terrein is op Maandag 5 Julie deur ’n span van Polokwane gesaniteer. Werkers en personeel is ook daarna deur ’n dokter van die dorp vir die virus getoets.

Hy het onverpoosd van 07:00 tot 19:30 gewerk om seker te maak dat almal getoets word. Die uitslag sou eers Woensdag 7 Julie bekend wees. Louw het die gemeenskap en familielede van die inwoners per stemboodskap verseker dat die situasie onder beheer is en hulle gerusgestel dat alles in hul vermoë gedoen word om die pandemie te bestry.

Streng maatreëls word sedert die begin van die pandemie in 2020 by die tehuis toegepas.

“Elke personeellid, werker en inwoner word gemoniteer en alle moontlike stappe word geneem om te sorg dat diegene wat siek is, gesond word en dat die virus nie verder versprei nie,” het Louw gesê.

Daar is tans 80 inwoners by die tehuis.

Related Articles

Back to top button