Local newsNews

Genade, onbeskryflik groot, vertel Modimolle-ma

“Dit is alles net genade van Bo dat ek kon staande bly te midde van hierdie lewensstorms.”

Só vertel Liza-Mari Boshoff (33) van Modimolle aan Die Pos oor haar emosionele- en fisieke gesondheidstryd nadat sy ingrypende hartchirurgie én Covid-19 oorleef het. Boshoff, wat gebore en getoë in Modimolle is, vertel sy het haar lewe lank gereeld geoefen en ’n gesonde leefstyl gehandhaaf.

Hoewel sy nog altyd aan lae bloeddruk gelei het, was sy fiks en gesond. Toe sy dus vroeg in 2020 daagliks uitsonderlik moeg en duiselig begin voel het, het sy haar huisdokter in Modimolle besoek.

“Hy het aanvanklik nie geweet wat die floutes en moegheid veroorsaak nie en ek is ek na ’n kardioloog in Pretoria gestuur vir verdere toetse,” het sy gesê.

“Ek was só bang om my ouers en twee kinders, Janco (toe 8) en Lizey (toe 6) agter te laat en alleen by die hospitaal te bly,” onthou sy.

Suid-Afrika was op daardie tyd in die middel van die Vlak 5-grendeltydperk en geen besoekers is toegelaat by hospitaalpasiënte nie.

“Die eerste stap was ’n klein prosedure in April verlede jaar waartydens ’n toestel, wat data stoor, in my liggaam geplant is sodat die kardioloog my hart en polsslag kan moniteer. Ek was dankbaar om te kon terugkeer huis toe,” het Boshoff vertel.

Tydens ’n opvolgondersoek het die kardioloog haar ingelig dat sy ’n pasaangëer moes ontvang omdat haar hart oor jare te veel verswak het weens die konstante lae bloeddruk.

“Ek kon dit nie glo nie. Ek het gedink dit is onmoontlik dat iemand wat relatief fiks en gesond is op 32-jarige ouderdom ’n pasaangeëer moes kry.”

Die operasie op 7 Mei 2020 was suksesvol, maar tydens Boshoff se opvolgbesoek ses weke later het die kardioloog gesien die pasaangeëer het geskuif en is besig om deur die vel te skeur.

Sy moes dringend ’n derde operasie op 23 Junie 2020 ondergaan sodat die pasaangeëer onder die spierweefsel aan die ribbekas vasgeheg kon word.

Sy vertel dit was ’n uitmergelende pad na herstel wat haar fisiek en emosioneel gedreineer het.

“My ouers, kinders en familie se gebede en ondersteuning het my deur hierdie donker tyd gedra.”

Boshoff vertel dat sy en haar eksman, Reino Boshoff, reeds in 2019 besluit het om te skei maar dat die egskeiding eers teen Desember 2020 gefinaliseer is.

“Reino se ondersteuning was nogtans van onskatbare waarde. Selfs sy ouers het aangehou om my te ondersteun in my moeilikste tyd.”

Met die voortslepende Covid-19-pandemie het Boshoff alles moontlik gedoen om haarself en haar gesin veilig te hou, veral omdat haar weerstand reeds laer is weens haar siektetoestand.

Sy het egter in April vanjaar griepsimptome ontwikkel en kort daarna het die Covid-19-toetsuitslae dit bevestig: Positief.

“Ek moes tuis isoleer, maar my toestand het só vinnig versleg dat ek omtrent niks van daardie eerste week kan onthou nie.”

’n Suurstofmasjien is vanuit Polokwane aangery en haar pa, Christo le Roux, het daagliks haar suurstofvlak gemoniteer. Sy kon haar twee kinders slegs deur ’n kamervenster sien. Daar was geen drukkies of soentjies nie.

“Ek raak steeds emosioneel as ek aan daardie skrikwekkende tyd dink toe ek so siek was. Om dae aaneen suurtof te gebruik en hande vol pille te neem, het my verskriklik depressief laat voel,” het sy aan Die Pos gesê.

Volgens haar het haar familie en vriende se gebede en ondersteuning haar ook deur hierdie stryd gedra. B

oshoff het aan Die Pos gesê sy is oneindig dankbaar vir almal se liefde en ondersteuning. Hoewel sy nog steeds nie haar “ou self” is ná haar Covid-19-stryd nie, is sy dankbaar dat sy dit oorleef het.

“Ek voel die Here wil my gebruik om te getuig van Sy goedheid, krag en liefde sodat dit ander mense kan bemoedig om deurgaans aan die Here vas te hou, ongeag die storms en swaarkrytye wat oor jou lewenspad kom,” het sy gesê.

“Moenie opgee nie, kyk op en staan op, want God se liefde vir jou is oneindig groot.”

  • Boshoff is in Modimolle gebore en was in Laerskool Nylstroom en Hoërskool Nylstroom waarna sy in Pretoria gaan studeer het.

    Sy het kort ná haar studies teruggekeer na haar tuisdorp waar sy en haar ma, Susan le Roux, en suster, Christel Meyer, die La Vie Beauty & Lasersalon vir meer as 12 jaar bedryf.

Related Articles

Back to top button