Local newsNews

Leraar en sy vrou sterf kort ná mekaar

Die Van Schalkwyk-familie moes binne twee weke afskeid neem van albei hul ouers, Schalk (92) en Lettie (88) van Schalkwyk, wat vermoedelik albei weens Covid-19-komplikasies gesterf het. Schalk was ’n emerituspredikant van Tuinplaas wat twee weke voor sy vrou gesterf het.

Hulle sou vanjaar 64 jaar getroud gewees het. Die Pos het met Esti Engelbrecht en Alda Serfontein, dogters van die egpaar, gepraat.

Schalk, gedoop Michael Johannes, is op 3 Julie 1929 in Stofberg, Mpumalanga, gebore. Hy is op Sondag 20 Junie oorlede. Lettie is op Saterdagoggend 3 Julie stil in haar slaap oorlede — op dieselfde dag waarop Schalk in Balmoral, Mpumalanga, begrawe is.

Albei is middel Junie positief getoets vir die Covid-19-virus, maar volgens hul dogters het hulle nie erge simptome ervaar nie.

Lettie, gedoop Aletta Getruida Muller, is op 19 Junie 1933 in Balmoral gebore as oudste kleindogter van genl. JBM Hertzog.

Schalk en Lettie het destyds op Balmoral ontmoet toe hy “toevallig” sonder petrol met sy motorfiets reg voor die Mullers se familieplaas gaan staan het. Dit was liefde met die eerste oogopslag en die paartjie is in 1957 getroud.

Die egpaar het na Bethal, Mpumalanga, verhuis waar Schalk in 1958 in die bediening getree het by die Nederduits Hervormde Kerk. Daarna het hy in 1963 ’n beroep by die NHK-gemeente in Bronkhorstspruit aanvaar.

In daardie tyd het die Bronkhorstspruit-gemeente uit ongeveer 2 000 lidmate bestaan vanuit die hele kontrei wat Ogies, Witbank (nou Emalahleni) en Middelburg ingesluit het.

Schalk het graag vertel dat die gemeente tydens daardie jaar se kerkbasaar 108 beeste ingesamel het wat op ’n gemeenteveiling verkoop is. Die veilingsgeld het die gemeente se skuldlas van die vorige 93 jaar ten volle gedelg.

Die gesin het daarna na Randburg in Gauteng verhuis, maar in 1972 weer na die platteland teruggekeer waar Schalk vir die volgende 10 jaar in die Delmas-gemeente bedien het. Daarna is hy na die Van der Hoff-gemeente in Groblersdal beroep waar hy tot met sy aftrede in 1995 was.

Die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) in Lydenburg het hom dieselfde jaar beroep om daar te bedien waar hy tot in 2001 was. Daarna het hy ’n beroep aanvaar na die Tuinplaas-gemeente in Limpopo waar hy tot 2018 was.

Lettie was alombekend vir haar heerlike spyseniering. Sy en haar susters het op sommige Saterdae spyseniering gedoen vir tot twee troues.

Sy was ’n hardwerkende predikantsvrou en het geglo ’n gemeente moet na buite lewe, daarom het sy graag konserte gereël met vooraanstaande kunstenaars soos Gé Korsten, Bles Bridges en Rina Hugo.

Die egpaar het sedert Desember 2016 in ’n woonstel by hul jongste dogter, Alda Serfontein, en haar gesin in Modimolle gewoon.

Hulle laat vyf kinders met hul gades, 11 kleinkinders en drie agterkleinders agter.

Lettie se teraardebestelling vind op Vrydag 9 Julie in die Hertzog-familiebegraafplaas in Balmoral, Mpumalanga, plaas. Die diens word behartig deur die egpaar se seun, ds. Barry van Schalkwyk.

Related Articles

Back to top button