Local sportSport

Thabazimbi se Zanie bult haar spiere

“Jy kan fisiek voorberei, maar as jy nie ook geestelik voorberei nie, sal jy baie sukkel.”

Só motivieer Zanie Janse van Rensburg van Thabazimbi haarself vir die laaste 20 jaar voordat sy die Comrades-marathon aandurf.

As boorling van die Vrystaat het sy vroeg reeds ’n liefde vir sport ontwikkel en ná 29 jaar in Thabazimbi ken mense haar as ’n formidabele sportvrou. Haar ongelooflike talent het haar al regoor die wêreld geneem, maar dit is op plaaslike bodem waar sy haar liefde vir sport die beste uitleef.

“Ek het regtig al alles gedoen. Ek en ’n vriendin het die groot muur van China uitgehardloop en ek het om Kilimanjaro gehardloop saam met Wilma Pienaar. As my feite korrek is, was ons die eerste Suid-Afrikaanse vroue wat dié roete aangedurf het. Dit was nege tot 12 ure aaneen vir agt dae lank en uiteindelik het ons 280 km afgelê.

Sy het ook al die Ysterman-kompetisie, Twee Oseane-marathon en natuurlik die Comrades-marathon suksesvol voltooi.

“Daar is net iets anders aan die Comrades-marathon. Dit is die lekkerste uitdaging ooit,” het Janse van Rensburg gesê.

Die uitbreek van die Covid 19-pandemie het verlede jaar ’n stokkie gesteek voor haar planne om haar 20ste Comrades-wedloop af te lê, maar selfs dit kon nie ’n demper plaas op haar sportmangees nie.

Sy en ’n groep vriende het besluit om sommer in Thabazimbi ’n virtuele marathon af te lê. Janse van Rensburg het besluit om nie net die virtuele wedloop aan te durf nie, maar sy het dit sommer twee keer gedoen!

Sy was op skool ’n kranige netbalspeler en hekkiesatleet, maar dit is op die tennisbane van Afrikaans Hoër Meisieskool waar sy eintlik naam gemaak het.

“My pa het my die wêreld vol laat vlieg om tennis te speel en ek was baie na aan kwalifiseer vir Wimbledon toe ek gedurende ’n netbaloefening skeefgetrap en ’n besering opgedoen het,” onthou sy.

Hierdie terugslag het haar egter nie ondergekry nie en dit is juis daarna dat sy haar liefde vir die langpad ontdek het.

Janse van Rensburg vertel sy het haar deursettingsvermoë en veggees by haar pa geërf en dit is ook duidelik dat dié gene nie daar gestop het nie. Haar oudste seun, Benhard, is ’n talentvolle rugbyspeler wat deesdae vir die Vrystaat Cheetahs uitdraf en sy jonger boetie, HJ, is kort op sy hakke as een van Hoërskool Frikkie Meyer se mees belowende jong spelers.

Haar dogter, Zanré, deel ook die gesin se liefde vir sport en het self hokkie gespeel.

“My pa het al die jare gedraf en ek en my sussies het maar saamgedraf. Later het ek en my eksman Amerika toe getrek waar hy rugby gespeel het. Die kinders se liefde vir sport kom dus van twee kante.”

“Almal wil suksesvol wees totdat hulle besef wat dit verg,” vertel sy. “Jy kan fisiek voorbereid wees vir ’n padwedloop, maar as jy geestelik nie reg ingestel is nie, kan jy maar daarvan vergeet.”

Dit gaan vir haar oor balans.

“’n mens moet rus terwyl jy nog goed voel en altyd voel jy kan nog ’n bietjie vinniger hardloop,” vertel sy. “Ek wil nooit ophou hardloop nie,” sê sy.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button