MunicipalNews

Northam-rioolprobleem steeds ’n stink storie

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het vandeesmaand ’n strafregtelike saak teen die huidige munisipale bestuurder van die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit (TLM) geopen ná ’n onlangse ondersoek oor die toestand van die plaaslike rioolaanlegte.

Inwoners van Thabazimbi en Northam het al gewoond geraak aan die rioolsituasie wat by die dag verder versleg.

Die MRK het reeds in November 2019 met verskeie ondersoeke in die Thabazimbi-omgewing begin nadat inwoners gekla het dat daar herhaaldelik rou riool en rommel in die Bierspruit en Rooikuilspruit gestort word.

Albei dié spruite voed die Krokodilrivier wat deur Thabazimbi en verskeie naburige dorpe vloei. Twee jaar voordat hierdie ondersoek geloods is, het ’n verslag van die Krokodilrivier-forum getoon dat die stortings in alle waarskynlikheid toegeskryf kan word aan die plaaslike rioolsuiweringswerke wat bloot rou riool en gedeeltelik gesuiwerde riool in dié rivier stort.

Die probleem het egter oor die afgelope vier jaar drasties toegeneem en verskeie inwoners en plaaslike amptenare eis nou antwoorde.

Die MRK het daarom in April vanjaar ’n vergadering met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en Limpopo se departement van ekonomiese ontwikkeling belê.

Marcelle Maritz, provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus (VF+) in Limpopo, het onlangs bevestig dat die MRK in Junie vanjaar ’n saak teen TLM se munisipale bestuurder geopen het vir oortredings in terme van die nasionale omgewingsbewa- ringswet.

Dit het gevolg nadat Maritz saam met dr. Eileen Carter van die MRK besoek afgelê het by die rioolaanlegte in Thabazimbi en Northam. Carter se verslag het bevind dat nie een van die aanlegte voldoen aan die nodige veiligheidsvereistes nie.

Die saak is na die hof gestuur vir ’n beslissing. Die Pos het einde April besoek afgelê by die Northam-rioolaanleg om ondersoek in te stel oor die stand van sake. Met die eerste oogopslag was dit skokkend om te sien dat daar geen veiligheidsmaatreëls was nie. Enigeen het toegang tot die terrein gehad.

Dit was ook sorgwekkend om te sien dat dié situasie dieselfde was by ’n kleiner rioolaanleg op die R510 naby die Northam Plaza. Verskeie inwoners het aan Die Pos gesê hulle is bekommerd oor die veiligheid en gesondheid van hulself en hul kinders.

“Ons kinders loop elke dag hier verby. Ek het kinders al sien speel in die erf waar die rioolaanleg is. Dit maak my baie bekommerd omdat die deksels van die rioolgate nie eens toe is nie. ’n Kind kan daarin val en sterf,” het ’n bekommerde inwoner gesê.

Die TLM het in 2018 begin met planne en samesprekings om ’n nuwe rioolverwer- kingsaanleg sowat 2 km verder wes op die Swartklip-pad te bou, maar die projek is steeds nie voltooi nie.

Intussen word rou riool vanaf die huidige aanleg afgevoer na ’n ghwarriegat op ’n naburige plaas.

Related Articles

Back to top button