LifestyleLocal Lifestyle

Laat ledigheid nie die duiwel vastrapplek gee nie

Ná ’n jaar en ’n half is die meeste van ons al moedeloos plannetjies gemaak om die maniere waarop die Covid-19-virus ons lewens omkrap te fnuik.

Die virus, met sy onvoorspelbare weë, het hierdie week weer vir groot konsternasie gesorg, veral vir werkende ouers.

Die nuutste Covid-19-regulasies bepaal dat alle skole vanaf Woensdag 30 Junie hul deure moet sluit om die verspreiding van die virus te probeer keer.

Papiermaché. Foto: lilblueboo.com

Hoe gemaak om die jong klomp besig te hou sonder kontak met maats? Televisie en rekenaarspeletjies is ’n gemaklike oplossing, maar nie die antwoord vir ’n lang tydperk by die huis nie. (Rekenaarspeletjies wat ouer kinders aanlyn speel, gee hulle darem nog die gevoel dat hulle kontak met hul maats behou.)

Die Pos het gaan rondvra vir idees. Laat jou tiener kosmaak. Ja, seuns kan meer leer as net hoe om te braai.

Mieliepap in die mikrogolf en ’n vinnige en maklike tamatiesous op die stoof gaan lekker gaan saam met daardie stukkie vleis oor die kole.

’n Bakpoeierbroodjie in die oond is nie breinchirurgie nie. Dink aan plaatkoekies, ’n eenvoudige spaghettibolognaise of tunaslaai. Hulle ontdek dalk dat hulle die talente van ’n Gordon Ramsey of Nigella Lawson het! Leer jou tiener op stil paaie bestuur.


“ I find myself worrying most that when we hand our children phones we steal their boredom from them. As a result, we are raising a generation of writers who will never start writing, artists who will never start doodling, chefs who will never make a mess of the kitchen, athletes who will never kick a ball against a wall, musicians who will never pick up their aunt’s guitar and start strumming.” — Glennon Doyle, Untamed


As jy vroeg begin, vorder hulle baie vinniger en makliker wanneer die tyd aanbreek om hul lisensie te kry. Sodoende spaar jy ook ’n paar rand.

Jy help ook bou aan jou kind se selfbeeld, aangesien hulle voel dat hulle kán. Papiermaché is heerlik vir ouer kinders.

Vergeet van die tradisionele spaarvarkie en kyk of julle ’n lewensgrootte bokkoptrofee kan regkry — een wat ’n mens soos ’n regte trofee teen die muur kan hang.

Soek op die internet rond; daar is mooi voorbeelde hiervan. As ’n bokkop nie byval vind nie, wat van ’n eenhoringperd of ’n draak? Dit kos jou koerantpapier, ’n bietjie meel, water en kreatiwiteit.

Laat die kinders modeparade hou met klere wat hulle self uit plastieksakke, koerantpapier, karton en wat nog prakseer het. Dis ’n geleentheid vir lekker lag en hul kreatiewe spiere kry oefening. Hulle kan vir ’n ruk lank op hul eie besig bly.

Hoor by ander ouers of hulle leesboeke wil ruil of leen. ’n Goeie boek kan ’n kind ure lank besig hou. Dit verlig ook die spanning — selfs kinders gaan gebuk onder die streslas en onsekerheid wat die virus meebring.

Kreatiwiteit gee hulle ’n broodnodige uitlating vir hierdie gevoelens. Kies ’n onderwerp wat jou kind interesseer en doen saam navorsing daaroor.

Daar is video’s op die internet beskikbaar oor elke denkbare onderwerp: vanaf die eienskappe van die elemente in die periodieke tabel, die wêreld se gevaarlikste brûe, hoe om filmgrimering aan te wend dat dit lyk asof jy die hoofrol in ’n riller vertolk, die geheime lewe van insekte, hoe slaap walvisse en hoe om ’n oulike katjie stap-vir-stap te teken.

Koppel ’n aktiwiteit daaraan wat hulle ’n ruk lank daarna op hul eie besig hou.

Moenie vergeet van daardie dinge wat ons as kinders ure lank besig gehou het nie: kaartspeel, bordspeletjies, skaak, tossels maak, vingerbakatel, teiken skiet met ’n kettie (pasop vir seerkry; die hospitale is vol, boetie!), dominoes, karretjies en Lego-speel, handskaduwees teen die muur en blikkie-telefone.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button