Local newsNews

Ligloop vir slange in wintermaande

Inwoners word gemaan om op die uitkyk te wees vir slange wat steeds bedags aktief is en hul graag tuismaak in knus plekke soos stapels brandhout, hope tuinvullis, wonings en kaste.

Mense moet veral op plase ligloop vir slange wat moontlik skuil in stoorkamers en plekke waar voerbale en lusern gestoor word.

Volgens Theunis Victor, plaaslike slangvanger en -kenner van Modimolle, bly slange heeljaar aktief in die Waterberg- en Bosveld-omgewing, want die matige winters verhoed dat hulle hiberneer.

Hierdie onskadelike wolfslang is onlangs in Modimolle gevang. Die skubbe bo-op die wolfslang wissel van donkerbruin tot swart, met klein wit spatsels op die punt van elke skub, terwyl die skubbe op die slang se pens wit is. Wolfslange word gemiddeld 50cm lank en kan tot 15 jaar oud word.

“Slange is gedurende die wintermaande bedags minder aktief, maar mense moet liefs beskermdrag dra wanneer hulle in die veld gaan stap. Pofadders lê graag in die lang gras en sal byt wanneer hulle verras word. Die meeste slangbyte is onder die knie; daarom bied stewels en kamaste goeie beskerming,” het hy gesê.

“Slange kan nou ook nader aan huise en nedersettings beweeg omdat daar minder kos in die veld beskikbaar is,” het hy gesê.

Victor het aan Die Pos vertel hy het onlangs ’n jong pofadder in die tuin van Nico en Elana Smit se kleinhoewe net buite Modimolle gevang.

Volgens bronne is die pofadder een van die gevaarlikste slange in Afrika en ook verantwoordelik vir die meeste slangbytsterftes in Afrika.

Die kragtige sitotoksiese gif tas weefsel aan wat in ernstige gevalle kan lei tot die amputasie van vingers en selfs ledemate.

Victor het ook vroeër vandeesmaand ’n onskadelike wolfslang in Rupertstraat, Modimolle, gevang. Die inwoners het op die slang, wat tussen tuinvullis geskuil het, afgekom toe hulle besig was om in die tuin te werk.

Volgens bronne verkies die wolfslang om hom tuis te maak in klam plekke onder rotse, stompe en tuinvullis.

Hulle maak meestal snags jag op insekte en akkedisse. Die slange is intussen vrygelaat in die natuur; weg van enige wonings of nedersettings af.

Inwoners word versoek om nie self te probeer om slange te vang nie, maar liefs die hulp van ‘n opgeleide slangvanger in te roep.

Bel gerus vir Theunis Victor by tel. 082 823 6910 of vir LD Pienaar by tel. 072 475 6414. Let daarop dat ’n minimale uitroepkoste gevra word wat aangewend word vir brandstofuitgawes.

Related Articles

Back to top button