NewsSchools

Frikkies se Winterhoop-projek maak ’n verskil

Hoe gee ’n mens iemand hoop?

Hoe bou ’n mens iemand op wat dalk voel hy of sy kan nie meer aangaan nie? Jy reik eenvoudig ’n helpende hand uit en wys jy gee om.

Leerders van Hoërskool Frikkie Meyer span elke jaar hierdie tyd saam om ’n verskil te maak in die lewe van Thabazimbi se behoeftiges met Projek Winterhoop wat hulle saam met die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie aanpak.

Dié projek is daarop gemik om jaarliks klere en nie-bederfbare produkte in te samel en te versprei onder behoeftige gesinne in die dorp.

Vanjaar was ook die eerste jaar dat Projek Winterhoop nie net gefokus het op die inwoners van die dorp nie, maar ook op die dorp se diere.

Die groep weldoeners by Thabazimbi Animal Rescue (TAR) is daagliks besig om verwaarloosde, mishandelde en hawelose diere se omstandighede te verander met broodnodige rehabilitasie en sorg.

Daarom het die Frikkies vanjaar besluit om ook daar ’n hand by te sit. Vir Talitha van Wyk, maatskaplike werker by die skool, is dit juis projekte soos hierdie wat nie net die leerders nie, maar ook die res van die dorp herinner aan hoeveel nood daar eintlik rondom ons is.

“Dit is ’n baie waardevolle projek vir ons leerders,” vertel Van Wyk.

“Dit leer die kinders van barmhartigheid, samewerking, omgee en al die mooi eienskappe wat elke kind nodig het.”

“Die Winterhoop projek reflekteer die waardes van ons skool baie goed en dit is ook vir die leerders ’n jaarlikse herinnering om dankbaar te wees vir wat jy reeds het.”

Related Articles

Back to top button