BlogsOpinion

Hoofartikel: Liefde in die tyd van Covid-19

Die afgelope paar maande is ons hier in Thabazimbi, soos in die res van die land, weer op ons knieë gedwing deur die gevreesde Covid-19-pandemie.

Volgens die jongste statistieke staan ons dorp tans op ’n skokkende 340 aktiewe gevalle met ongeveer 50 sterftes wat al aangemeld is.

En net toe ons dink die ergste het gebeur, hoor ons almal weer die gevreesde: “My fellow South Africans” oor ons televisies en radio’s.

Die spreekwoordelike wind is weer uit ons seile en ons vra die vraag: “Hoe kan ons voortgaan?”

Skuins ná die aankondiging deur pres. Cyril Ramaphosa dat ons landwyd weer vir die volgende twee weke onder vlak 4 van inperkings sal moet funksioneer, het ’n hartroerende foto op sosiale media begin sirkuleer.

Die beeld wat deur ’n Kaapse kelnerin vasgevang is, wys die reaksie van ’n verslae, moedelose restauranteienaar wat, soos baie ander, wonder hoe hy vir die volgende twee weke kop bo water gaan hou.

As dit waar is dat ’n prentjie duisend woorde spreek, spreek dié beeld van absolute gebrokenheid en dit bring ’n mens weer by die vraag: Hoe kan ’n mens opstaan nadat die mat onder jou voete geruk is?

Dalk lê die antwoord binne in ons; dalk, net dalk, kan ons hierdeur kom as ons meer begin saamstaan.

Met die uitbreek van die pandemie verlede jaar moes sakeondernemings regoor die land leer om in dié nuwe sakeklimaat aan te pas en vandag, ná meer as ’n jaar, staan ons weer voor dieselfde onbekende môre.

Dalk moet ons onsself herinner aan die onsterflike woorde van digterpolitikus Mathews Phosa: “Groei saam in die gees, help droom ’n visie, swoeg is die toekomssaad.”

Dit is net hand aan hand dat ons hierdie nuwe berg kan uitklim. Dit is net met hulp van ander wat ons die vyand sal verslaan en dit is net deur hard te werk en saam te werk dat ons die toekoms kan ingaan.

Kom ons probeer oor hierdie volgende twee weke dink aan ons sakemense en wat ons kan doen om saam met hulle die wa deur die drif te trek.

Al is dit iets so eenvoudig soos ’n “Facebook-like,” of ’n verwysing na nuwe kliënte. Ons almal kan ’n verskil maak in die lewens van ons plaaslike sakelui.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button