Local newsNews

Skryfkompetisie vir digters en skrywers van alle ouderdomme

Ink Skryf in Afrikaans, ’n onafhanklike platform wat skryfwerk in Afrikaans bevorder, bied vanjaar weer hul dig- en skryfkompetisie aan.

Digters en skrywers van alle ouderdomme het tot Woensdag 30 Junie die geleentheid om hul gedigte en kortverhale in te stuur.

Die Pos het met Anzé Bezuidenhout, stigter van Ink Skryf in Afrikaans, gesels oor haar liefde vir skryfkuns in Afrikaans.

“Ek het die platform ’n paar jaar gelede begin omdat ek gesien het geleenthede vir Afrikaanse dig- en skryfwerk op die internet is baie beperk. Ink het só vinnig gegroei dat dit nou behoorlik uit sy nate bars,” het sy gesê.

Die Ink-webwerf het reeds 1 200 lede met heelwat meer belangstellendes op hul Facebook-blad.

Bezuidenhout het verduidelik die doelwit van die kompetisie is om gehalte poësie en kortverhale in Afrikaans te bevorder en beskikbaar te stel aan die publiek in bloemlesings.

Die beste gedigte en kortverhale sal na afloop van die kompetisie in drie afsonderlike bundels opgeneem word: Inspraak (gedigte), Inspraak (kortverhale) en Inspraak (skoliere).

Karen Zoid, sanger, liedjieskrywer en TV-aanbieder, en Jackie Nachtegaal, advokaat en bekroonde skrywer, is vanjaar die beskermvroue vir die dig- en skryfkompetisie wat deur ’n onafhanklike paneel beoordeel word waarvan Anton Bosch, Ronel Maré Dunn, Nico Schamrel, Bets Koen en dr. Douwlina du Plessis deel is.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), AfriForum, Afrikaanse Taalmonument en die Historium Trust tree as hoofborge op.

Volgens Bezuidenhout sal die toptwaalf inskrywings na verwagting aanstanade jaar in een van die Taalmonument se tuine uitgestal word.

Kranige skrywers en digters kan gerus op die webwerf, www.ink.org.za, registreer om deel te neem aan vanjaar se kompetisie.

Belangstellendes kan ook vir Anzé Bezuidenhout bel by tel. 082 648 0284.

Related Articles

Back to top button