Local newsNews

Modimolle-boer ontvang hoë eer vir sy beeskudde

Yusuf Ravat (38) van Modimolle is ’n boer om mee rekening te hou.

Die Suid-Afrikaanse Stamboek en Diereverbeteringsvereniging het op Maandag 26 April verskeie telers in Suid-Afrika vir hul uitsonderlike prestasie in hul onderskeie bedrywe vereer. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat die nasionale geleentheid virtueel vanuit Bloemfontein aangebied is.

Ravat het vanjaar die Unieke Presteerder van die Jaar-toekenning vir sy Hugenoot-stoetbeeste ontvang. Hierdie prys gee erkenning aan ’n teler wat ’n unieke prestasie lewer vir ’n betrokke ras en sodoende ’n groot invloed het op stoetteling.

Yusuf Ravat (38) het vanjaar die Unieke Presteerder van die Jaar-toekenning vir sy Hugenoot-stoet ontvang. Hy het die Yari-stoetery in 2018 met elf verse begin. Op die foto’s staan hy saam met ’n paar jong bulle. Foto: Herman Steyn

Ravat se Yari-stoetery, net buite Modimolle, is in 2018 met elf verse van die Hugenoot-beesras begin en het nou aangegroei tot ’n kudde van ongeveer 200 beeste.

Daar is ook kuddes dorperskape en boerbokke op sy plaas. Hy is die eerste veeboer in die Ravat-familie.

Ravat het tydens ’n onderhoud met Die Pos verduidelik dat hy baie navorsing gedoen het voordat hy op die Hugenoot-beesras besluit het.

“Dit is ’n geharde, Suid-Afrikaanse vleisbeesras wat maklik aanpas in ons klimaat. Die aanvraag na hierdie ras is hoog, want hul vrugbaarheid en aanteeltempo is baie goed. Hugenoot-beeste het ook ’n rustige geaardheid wat die hantering van die beeste vergemaklik,” het hy gesê.

“Ons gebruik nuwe tegnologie en teelwaardes om ons diere se genetiese eienskappe te verbeter. Ons doelwit is om inteling uit te skakel en weg te doen met dubbelbespiering,” het hy verduidelik.

Volgens Ravat kan daar bepaal word watter bulle om by watter koeie uit te bring sodat die kalwingsproses vergemaklik word.

“Die teelwaardes se data, asook genomiese en DNS-toetse is beslis tot voordeel van voornemende kopers omdat ons met redelike akkuraatheid kan bepaal vir watter doel ’n sekere bul aangewend kan word. Ek het vertroue in die werklike aangetekende data wat oor jare opgebou is soos geboortegewig, speengewig en die voorouers se geskiedenis,” het hy aan Die Pos gesê.

Volgens Ravat het die Hugenoot-beesras die vierde vleisbeesras in Suid-Afrika geword wat genomiese teelwaardes gebruik — iets wat tot voordeel van die beesbedryf in geheel strek.

Ravat het vanjaar ’n uitnodiging ontvang om deel te neem aan die gesogte Oos-Transvaal Ram en Bul-veiling wat op Woensdag 28 Julie in Ermelo, Mpumalanga, plaasvind.

“’n Boer moet na aan God leef, want boere werk met diere wat nie kan praat nie. Die liefde en geduld wat boere aan die dag lê om hul diere te versorg en te behandel, getuig van hierdie liefde. Ek dank God elke oggend as ek opstaan vir sy troue sorg.”

Ravat en sy vrou, Aadila, is vanjaar 13 jaar getroud en is geseënd met tweelingseuns van sewe jaar oud.

Hy is die sewende geslag Ravat-familie wat in die Waterberg-distrik om Modimolle woon.

Vir meer inligting kan lesers vir Ravat ’n e-pos stuur na yandaravatinvestments@gmail.com of bel hom by tel. 082 569 7743.

Related Articles

Back to top button