Local sportSport

Warmbad-rolbalklub se eie Big Bash-toernooi die grootste nog

Die Warmbad-rolbalklub het verlede naweek geskiedenis gemaak toe hulle een van die grootste rolbaltoernooi ooit in Limpopo aangebied het.

Die toernooi het gesoute spelers van Kempton Park, Pretoria, Duiwelskloof, Polokwane en Modimolle gelok.

Prysgeld van ongeveer R25 000 was op die spel. Faan Rossouw, president van die Warmbad-rolbalklub, het gesê Bela-Bela is beslis nie meer net bekend vir sy minerale bronne nie.

“Covid-19-inperkings het veroorsaak dat heelwat klubs regoor die wêreld die afgelope jaar hul geriewe moes inperk of selfs sluit. Ons klub kon deur vindingryke oplos- sings die inperking te bowe kom en het in dié tyd selfs in ledetal gegroei. Ons klub beskik oor vyfster-geriewe en ons bane word as van die beste in die land gereken.”

Omdat die bekende Winter-toernooi nie kon plaasvind nie, het dit die weg gebaan vir die Big Bash-toernooi wat oor ’n splinternuwe spelformaat beskik het.

Altesame 28 spanne het gesamentlik 168 wedstryde oor agt skofte gespeel. Die prysgeld was aanmoediging vir spanne om hul beste spel te lewer, het Rossouw gesê.

Die Warmbad-klublede het koning gekraai toe die span van Marliza Venter en Hettie Rossouw die eerste plek losgerol het en daarmee R 8000 in die sak kon steek.

Deelnemers het na afloop van die toernooi hul lof teenoor die klubbestuur en onderhoudspan uitgespreek. Die terrein, geriewe en reëlings het met die bestes in die land vergelyk. Rossouw het gesê die klub steun swaar op ondersteuning van die gemeenskap en hulp van borge.

Danksy hul bydraes kon die Warmbad-rolbalklub ’n pluimpie vir die dorp inpalm.

“Sakeondernemings en instansies is die hart en siel van mededingende sport en die gemeenskap moet hulle ondersteun. Ek is baie trots op elke klublid wat deel van die sukses was,” het hy gesê.

Die klub beoog om later vanjaar die gewilde Aalwyn-toernooi aan te bied. Daar is verskeie spelers wat reeds op ’n waglys geplaas is en daar heers groot opgewondenheid en belangstelling oor die toernooi. Die klub bedank hul borge wat die dag moontlik gemaak het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button