Local newsNews

Waterberg se Franna Benadé kyk vorentoe ná Covid-19-stryd

Franna Benadé, alombekende sanger en jarelange inwoner van Modimolle, het met Die Pos gesels oor sy onlangse stryd teen die Covid-19-virus.

Volgens Benadé is hy sowat drie weke gelede met Covid-19 gediagnoseer en in dieselfde tyd het vier van sy vriende ook baie siek geword.

“Dit was verskriklik swaar om van drie boesemvriende afskeid te neem. Daar is nie altyd antwoorde nie, want ons verstaan nie hoekom sommige mense genees word en ander sterf nie. Selfs Jesus het nie altyd antwoorde vir mense gehad nie en soms net saam met hulle gehuil.”

“Ek was by tye baie bekommerd oor die siekte, maar my vrou, Helena, en ’n paar hegte vriende se ondersteuning was van onskatbare waarde. Helena het my daagliks daaraan herinner om dankbaar te wees vir elke liewe ding en om lewe te spreek,” het hy gesê.

Daar is baie skrifgedeeltes uit die Bybel wat hom ook bemoedig het in hierdie tyd.

“Deur dit alles het ek geweet dat God in beheer is en dat Sy genade vir my genoeg is.”

Volgens Benadé is die beste “apteek” in ons denke.

“Jou denke bepaal hoe jy leef en optree.”

Hy verwys na ’n teksvers in Romeine 12:2:

“Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.”

Volgens Benadé is vrees die dodelikste siekte wat ’n mens maklik vasvang en verlam.

Daar is ’n gewilde gesegde in Engels wat lui: Fear is only false evidence appearing real.” Hierdie “nuwe normaal” wat die Covid-19-pandemie teweeg gebring het, is abnormaal, het hy gesê.

“Ons het gesigloos en emosieloos geword weens die maskers. Dit kweek vrees en veroorsaak isolasie en skeiding tussen mense terwyl ons almal smag na liefde en aanraking. Ek wil mense bemoedig om op God te fokus — nie op hierdie virus en al die ander gevreesde siektes soos kanker en hartkwale nie,” het hy gesê.

Volgens Benadé het hy ’n brandende begeerte om mense te bereik met hierdie boodskap.

“Ons moet met oorvloed leef, maar ook met hoop op die ewige lewe.”

Benadé het aan Die Pos vertel dat daar binnekort ’n nuwe album op die rakke verskyn.

“My seun, Riaan Benadé, is die afgelope paar jaar reeds baie betrokke in die musiekbedryf. Hy doen dinge op sy eie manier; sonder dat ek ooit ingemeng het,” het Benadé gesê.

Riaan is sedert 2018 by die Coleske Artists-platemaatskappy, wat in 1996 gestig is deur die alombekende sangduo, Arnold en Ewald Coleske. Benadé vertel dat hy vroeër vanjaar in Pretoria was en toevallig by Arnold Coleske gaan inloer het.

Hulle ken mekaar sedert die vroeë 1990’s toe die Coleske-duo bekendheid verwerf het en per geleentheid saam met Franna Benadé en sy ewe bekende broer, Innes, opgetree het. Die uiteinde van hul gesprek was ’n albumkontrak.

Die nuwe album — Net soos ek is — word binnekort vrygestel.

“Ek dink dit is die regte tyd vir hierdie album, want mense is uitgehonger vir goeie nuus en God se boodskap van liefde, bevryding en vergifnis.”

Related Articles

Back to top button