Local newsNews

Bekende fisioterapeut sterf aan Covid-19

’n Oudinwoner en bekende fisioterapeut van Bela-Bela, Annarie Grobler (58), is verlede naweek in die Wilmed Park-hospitaal in Klerksdorp weens Covid-19 oorlede.

Grobler is drie weke in die hospitaal se hoësorgeenheid behandel voordat sy oorlede is.

Volgens haar dogter, Lize Schlebusch, het dit in ’n stadium gelyk asof sy herstel, maar die hospitaal wou haar toestand langer moniteer.

Grobler het daarna ’n sekondêre infeksie opgedoen en die behandeling was nie suksesvol nie. Die familie vind troos in die feit dat hulle haar vir ’n laaste keer kon sien voor haar dood.

“Sy was gesond voordat sy Covid-19 opgedoen het. Die mense van Bela-Bela onthou haar as ’n gesondheidsfanatikus. Sy het altyd bykomende vitamines geneem, geoefen en was gesteld op ’n gesonde dieet. Sy het dus glad nie die profiel gehad van ’n waarskynlike Covid-19-slagoffer nie,” het Schlebush gesê.

“Dit was baie vreemd om haar in die hoësorgeenheid te sien. Dit het vir ons gevoel asof sy nie daar hoort nie,” het sy bygevoeg.

Die Grobler-gesin was nog besig om die dood van Roelof Jordaan, bekende arbeidskonsultant van Bela-Bela en jarelange huisvriend, te verwerk toe hul gesin self onkant gevang is deur Annarie se diagnose.

Grobler het in ’n pastorie in Witrivier grootgeword. Sy het daar haar skoolopleiding voltooi waarna sy fisioterapie aan die Universiteit van Pretoria studeer het.

Sy en Reint Grobler, bekende in landboukringe, het op universiteit ontmoet. Hulle het lank die Springbokvlakte hul tuiste genoem.

Grobler het ’n fisioterapie-praktyk in Modimolle gehad en later na Bela-Bela uitgebrei. Die egpaar het die laaste paar jaar in Lichtenburg gewoon.

“Sy was baie geliefd onder haar pasiënte en dokters en was ’n bekende gesig by die destydse St. Vincent’s-hospitaal (nou die Phodi Clinic). Sy was bekend daarvoor dat sy altyd bereid was om bykomende moeite vir haar pasiënte te doen,” het Schlebush gesê.

“Sy het ’n besondere voorliefde vir katte gehad en sy het ons huishouding amper soos ’n katte-weeshuis bestuur. Die plaaslike dierekliniek het haar altyd gebel om te vra of sy nie nog ’n verlore katjie wil inneem nie. Sy kon dit nooit oor haar hart kry of toelaat dat katte van kant gemaak word nie.”

Schlebush onthou dat hul huis altyd vol vreugde was. Haar ouers was joviaal en het graag besoekers aan huis ontvang.

“Ek en my man se derde kind is gebore toe my ma met Covid-19 gediagnoseer is. Ons het ons babadogtertjie na my ma vernoem,” het Schlebush gesê.

Die talle gebedsgroepe, selfs vanuit die buiteland, was vir die gesin en vir Annarie in besonder ’n riem onder die hart.

Haar gesin het haar gereeld op hoogte gehou van die tientalle boodskappe van beterskap wat daagliks ingestroom het.

“My pa kry baie swaar, want hy het sy beste vriendin verloor. Hulle was baie lief vir mekaar en was onafskeidbaar. Hulle was ’n toonbeeld van ware liefde.”

Die familie het aan Die Pos gesê hoewel sy op ’n relatiewe jong ouderdom gesterf het, het sy steeds ’n vol lewe gehad.

Sy het met oorgawe geleef en haar gesin, familie en vriende was vir haar baie kosbaar. Sy het ondanks haar besige tydskedule altyd tyd gemaak om haar geliefdes te besoek.

Sy was ’n liefdevolle en omgeemens. Haar begrafnis is op Vrydag 18 Junie vanuit die Nederduitsch Hervormde Kerk in Lichtenburg.

Sy laat haar sielsgenoot, Reint Grobler, haar drie kinders, Lize Schlebusch, Cornelis en Bernard Grobler, skoonkinders en drie kleinkinders agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button