BlogsOpinion

Hoofartikel: Waar moet ons kinders speel?

Toe ons nog jonk was, het die buurtkinders saans tot ná skemer buite in die straat gespeel.

Noem maar op: Krieket, rugby, sokker, aan-aan, brandbal, blikaspaai en wegkruipertjie was vir almal bekende speletjies.

Daar is fiets gery en boom geklim. Niemand het twee keer gedink oor skelms wat agter bosse skuil of mense in motors wat kinders steel nie.

Daar was ook geen vrees vir ’n onsigbare virus wat jou aan die keel kan gryp sodra jy te naby aan jou maatjies staan of aan hulle raak nie.

’n Vreemdeling op straat was ’n toekomstige nuwe maat en nie met agterdog bejeën of wantrouig vermy nie.

Die lewe was soveel eenvoudiger toe ons kinders was. Vandag stap mens straataf en sien kinders wat speel op songebakte sypaadjies langs oumas wat moedeloos toustaan vir hul pensioen en ouers wat hangskouers wag vir hul maatskaplike toelaes.

Kinders speel op die moddersypaadjies voor die staatskliniek terwyl Ouma of Mamma daglank hul beurt afwag om hul kroniese medisyne te kry.

Die township-kinders speel met stokke en binnebande in stofstrate waar strome riool tussen die huise deurloop. Of tussen betogers wat die polisie met klippe bestook terwyl ander motorbande brand en slagspreuke skree.

Hierdie selfde kinders kom ook soms onder skoot wanneer die polisie rubberkoeëls of traangas afvuur.

Skole se speelgronde is bykans grafstil, want daardie kinders wat wel by die skool is, sit gemasker — 2 m uit mekaar.

Stadskinders speel smiddae ingehok agter sesvoet hoë heinings uit vrees vir boosdoeners, terwyl dorpskinders smiddae moet huis- waarts keer sodra die son die boomtoppe raak, want niemand waag dit saans op straat nie.

Selfs ’n openbare parkie in ’n gegoede buurt is nie meer ’n geskikte speelplek nie nadat daar op ’n fetus in ’n asblik afgekom is.

Plaaskinders verken nie meer elke klip en miershoop op die plaas nie, want hulle speel net rondom die opstal — veilig binne die hoë elektriese heining.

Elke ouer wil hul kinders toevou in liefde, opvoed in wysheid en beskerm teen die boosheid in die wêreld. Maar waar moet ons kinders speel?

Die lewe was voorwaar soveel eenvoudiger toe ons kinders was.

Related Articles

Back to top button