Local sportSport

Bosvelders hou plaaslike Comrades-marathon

“Sport kan hoop skep in ’n wêreld vol wanhoop.”

Oudpres. Nelson Mandela het in 2011 met dié woorde die destydse Springbok-rugbyspan gemotiveer voordat hulle na Nieu-Seeland vertrek het vir die wêreldbekertoernooi.

Dié woorde is vandag nog net so waar. Die wêreld het verlede jaar paniekerig voor ’n reuseuitdaging te staan gekom met die uitbreek van die Covid-19-pandemie.

Alles het in ’n oogwink soos handomkeer verander. Mense het hul wêreldwyd in hul huise toegegrendel en van sportgeleenthede was daar geen sprake nie. Met die opskorting van verskeie sportbyeenkomste in 2020 het selfs die gewilde Comrades-marathon in die slag gebly.

Die Comrades Marathon Association (CMA) het gevolglik besluit om die heel eerste virtuele Comrades Legends-marathon (CLM) aan te bied.

’n Span Thabazimbi-atlete het die afgelope naweek weer hul hardloopskoene aangetrek en die Bosveldstofpaadjies aangedurf tydens vanjaar se virtuele CLM.

Die eeufeesviering van die wêreldberoemde ultramarathon (wat normaalweg tussen Durban en Pietermaritzburg gehardloop word) sou vanjaar plaasvind en hoewel dié mylpaal nie behoorlik gevier kon word nie, het dit glad nie ’n invloed gehad op die geesdrif van plaaslike atlete nie.

Moksie Pelser, ’n bekende sportvrou van Thabazimbi, het op Sondag 14 Junie saam met ’n groep van haar vriendinne in die vroeë oggendure weggespring om die 90 km-roete op tuisbodem aan te durf.

Dit was ’n emosionele pad vir dié groep voorslagvroue, maar volgens Pelser was al die voorbereidings, ondanks die seer spiere, absoluut die moeite werd.

“Dit is in oomblikke soos hierdie dat ’n mens besef alles wat ons is en het is blote genade. ’n Mens is nooit so naby aan jou Skepper soos in die natuur, wanneer jy alleen is met jou eie gedagtes nie,” het Pelser vertel.

Die “Bosveld-Comrades,” soos wat die roete onder die groep vriendinne bekend geraak het, strek van Thabazimbi verby Tarentaalpan op die Lephalale-pad uit, verby Hoopdal-polisiestasie en Marathaba en deur Marakele voordat die atlete die uitmergelend 90 km in Thabazimbi afsluit.

Die groep atlete is vanjaar deur hul geliefdes ingewag wat die bekende Chariots of Fire oor hul voertuie se klankstelsel laat speel het toe die groep vroue oor die eindstreep gehardloop het.

Die trane het vrylik gevloei met die aanhoor van dié lied.

Die Comrades-marathon is sinoniem met kameraadskap en spanwerk en vanjaar was dit duidelik dat Thabazimbi se atlete enige uitdaging hand-aan-hand in ’n japtrap kan kafdraf.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button