Local newsNews

Geliefde Bosveld-seun (21) sterf in ongeluk

“Leef voluit! Geniet die lewe en moet niks half doen nie.”

Dít is hoe Martin Scheepers (21) elke dag sy lewe geleef het. Scheepers het op Saterdag 5 Junie gesterf nadat hy in ’n noodlottige ongeluk op die Dwaalboom-pad was.

Hy was alleen in die voertuig en die presiese oorsaak van die ongeluk was teen druktyd nog nie bevestig nie. Vir inwoners van Thabazimbi was Martin alombekend as ’n “seun van die Bosveld”, ’n jagter, ’n vriend by wie ’n mens kon gaan sit as jy hartseer voel, ’n seun van die Here en ’n seën van die Here.

Scheepers is in Thabazimbi gebore en was van jongs af bekend in die dorp as ’n terggees met ’n ongelooflike sin vir humor en ’n hart propvol liefde.

In sy jonger dae het hy graag saam met sy ma, Antoinette, gery as sy koerante in die dorp afgelewer het. Dis ook daar waar die dorp se mense hom leer ken het as ’n hulpvaardige seun met ’n sprankelende persoonlikheid wat altyd verwonderd gestaan het oor die wêreld rondom hom.

“Martin het altyd by die huis met een of ander diertjie of gogga aangekom,” onthou sy ma. “Hy was ’n baie maklike kind, maar ’n regte seuntjie. Veral toe hy ouer geword het, het hy en sy broer, Theaan, gedurig kattekwaad aangevang.”

Hy was bemind en word beskryf as ’n persoon wat met sy teenwoordigheid ’n geselskap opgekikker het. Hy het werklik ’n “sonskyn-geaardheid” gehad, het een van sy vriende gesê.

Hy was ’n lewenslustige man met inbors en trots op wat hy in sy jong lewe bereik het. Hy sal onthou word as iemand wat onwrikbaar was in sy norme en het sy liefde vir die Here uitgeleef.

Marthinus Johannes Scheepers, oftewel Drom, soos hy ook bekend gestaan het, laat sy ma Antoinette, sy pa Hannes, en sy jonger broer agter, maar belangriker nog is sy nalatenskap van liefde en selfrespek, asook die respek vir sy medemens.

Sy ma skryf oor hom:

“Martin was ’n kind om op trots te wees en hy het werklik die lewe geniet. “My boodskap vir vandag se jongmense is: Dink voor jy doen. Wees trots op jouself, op jou werk en op alles wat jy doen, net soos hy was. Die lewe is ’n geskenk van God — leef dit. Onthou, dit is net ’n asemteug lank. Dit wat jy het, is net genade.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button