Local newsNews

Polisievrou ‘vang’ baba

Polisiebeamptes van Roedtan, ’n klein dorpie in die landelike gebied van die Waterberg, het op Sondag 30 Mei vinnig ’n plan gemaak om ’n hoogswanger 23-jarige vrou in nood te help om geboorte te skenk.

Konst. Kleinbooi Mnisi was op die betrokke dag aan diens in die dienskantoor toe die vrou, wat in die omgewing woon, omstreeks 13:00 by die polisiestasie opgedaag het.

Sy was in nood, want die kliniek in Roedtan het glo geen verpleegsters gehad wat na-ure of oor naweke aan diens is nie.

Die naaste kliniek is ongeveer 45 km verder in Mookgophong, terwyl die naaste hospitaal meer as 80 km verder in Modimolle is.

Mnisi het aan Die Pos vertel hy het sy kollega, sers. Nkang Winner Mogoru, wat op patrolliediens was, gebel om te help met die bevalling. Mogoru, wat voorheen basiese noodhulp en verpleegopleiding ontvang het en self drie kinders het, het dadelik na haar blyplek gegaan om ’n paar basiese benodigdhede te gaan haal.

Intussen het sy die provinsiale nooddienste gebel, maar na bewering was die enkele ambulans wat die hele Modimolle en Mookgophong-area moes bedien, nie beskikbaar nie en die privaat nooddiens sou eers ongeveer 14:00 op die toneel kon wees.

Mogoru het aan Die Pos vertel sy het besef sy gaan die vrou moet help, want die ambulans gaan te lank neem.

“Ek het deurentyd gebid dat die geboorteproses maklik en sonder komplikasies moet verloop,” het sy gesê.

Die vrou is na die raadsaal geneem waar Mogoru haar bygestaan het met die geboorte. Die gesonde babadogtertjie is kort daarna gebore.

Die privaat ambulans het net voor 14:00 opgedaag om die ma en baba na die kliniek in Mookgophong te neem. Hulle is die volgende dag ontstlaan.

Mogoru het aan Die Pos vertel dit is die derde baba wat sy by die Roedtan-polisiestasie in die lewe help bring het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button