Local newsNews

Virus slaan sy tande in by Die Oog-aftreeoord

Die Oog Aftree-landgoed buite Mookgophong het die afgelope week vyf van hul geliefde inwoners aan die Covid-19-virus afgestaan.

Merf Swartz, Tok Labuschagne, Roelf Strydom en Sarel en Truiki Stander is almal aan Covid-19-verwante oorsake oorlede.

Volgens Prof. Philip Venter, die oord se ondervoorsitter wat ook verantwoordelik is vir die kommunikasieportefeulje van die raad van trustees, het gesê dit is ’n groot slag vir die inwoners.

Inwoners wat in aanraking was met mense wat positief vir die virus getoets is, is almal tans in isolasie.

Daar is die afgelope twee weke reeds 30 positiewe gevalle aangemeld, het hy gesê.

“Ek is self ook positief getoets en is in isolasie, maar ek toon byna geen simptome nie. Ons is ook nie seker watter variant dit is nie, want die laboratoriums dui net aan dat die toetse positief is. Ek het maar laat toets omdat ek verkouesimptome gehad het,” het hy aan Die Pos gesê.

Hy skryf die groot aantal positiewe gevalle toe aan die feit dat inwoners op ’n uitstappie buite Die Oog se gronde was en glad nie bewus was daarvan dat hulle die virus onder lede het of in aanraking was met iemand wat met die virus besmet was nie.

“Ons wil dit duidelik stel dat daar geen blaam op enige persoon geplaas word nie. Indien iemand in die oord positief getoets word, lig ons almal in en enigeen wat in kontak was, word dadelik in isolasie geplaas. Daar is tans ongeveer 50 gesinne in isolasie,” het Venter gesê.

Alle aktiwiteite soos lyndans, jukskei en selfs kerkbyeenkomste is dadelik opgeskort. Die eetsaal is ook vir aansit-etes gesluit en net wegneem-etes word voorsien.

Inwoners wat in isolasie is, se kos word volgens streng protokol afgelewer.

Venter het gesê hulle ontmoedig inwoners om die oord te verlaat en die kruideniers-en groetewinkels lewer bestellings af aan inwoners.

Selfs die mense in isolasie se vullissakke word ontsmet voordat dit verwyder word. Die departement van gesondheid het die oord op Saterdag 5 Junie besoek en was tevrede met die manier waarop die situasie hanteer word en die protokol wat gevolg word om die verspreiding hok te slaan.

“Daar was geen nalatigheid nie en ons wil graag ons medelye uitspreek met die families van diegene wat gesterf het,” het Venter gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button