Local newsNews

Modimolle se Covid-19-syfers tans onder beheer

Inwoners van die Kokanje-aftreeoord net buite Modimolle kon op Dinsdag 1 Junie die Covid-19-inentings by die oord se saal ontvang.

Volgens Anina Pretorius, woordvoerder, het altesame 133 inwoners en 98 personeellede die inenting ontvang wat oor twee dae by die oord deur personeellede van die departement van gesondheid toegedien is.

Sy het gesê heelwat van hul inwoners ouer as 60 jaar het ook hul inentings by die MDR-hospitaal en apteke in die dorp ontvang.

“Daar was tot op hede net enkele Covid-19-gevalle by die oord en daar is tans geen pasiënte met die virus onder lede in die versorgingseenheid nie,” het sy gesê.

Elizabeth Breitenbach, bestuurder van die Residentia Waterberg Ouetehuis, het aan Die Pos gesê hulle het slegs een Covid-19-pasiënt in Desember 2020 gehad.

Sy het gesê die versorgingsoord is tans in algehele afsondering as voorsorgmaatreël om inwoners te beskerm.

Inwoners in die woonstelle kan wel vryelik beweeg, maar mag ongelukkig nie die versorgingsoord besoek nie. Volgens Abel Makhubele, verteenwoordiger van die MDR-hospitaal in Modimolle, is daar vanaf Woensdag 26 Mei tot Vrydag 28 Mei altesame 819 inentings toegedien met die aanvang van die tweede fase van die nasionale inentingsprogram.

’n Gemoedelike atmosfeer het tydens Die Pos se besoek op Donderdag 27 Mei onder die mense geheers terwyl hulle die gemiddelde wagtyd van drie ure geselsend verwyl het.

Die ry stoele, wat met die nodige afstand tussenin gepak was, het gestrek tot aan die onderste punt van die parkeerterrein.

Die F.H. Odendaal-hospitaal in Modimolle het ’n tydelike fasiliteit in die departement van sosiale ontwikkeling se gebou in Mohapistraat, in die Phagamang-woongebied in Modimolle, opgerig waar inentings vanaf Maandag 31 Mei tot Vrydag 4 Junie toegedien is.

Solly Maphologela, hospitaalverteenwoordiger, het bevestig dat altesame 1102 inwoners bo 60 jaar inentings gedurende hierdie tyd ontvang het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button