Local sportSport

Park lyk soos ’n nuwe sikspens

Sport het die afgelope jaar uit alle oorde bloedneus gekry weens die Covid-19-pandemie, maar inwoners van Thabazimbi kan nou uitsien na ’n splinternuwe, opgeknapte Thaba Park-sportsentrum.

Thaba Park het sy hekke in 2019 vir herstelwerk gesluit waarna verskeie sportspanne en atlete nie ’n behoorlike oefenplek gehad het nie.

Danksy ’n suksesvolle opknappingsprojek kan sportgeesdriftiges gelukkig nou weer uitsien daarna om sake op hul gunstelingbaan en –veld uit te spook.

Lede van die Thabazimbi-munisipaliteit en die SANDF besoek die opgeknapte muurbalbane by Thaba Park.

Die Suid-Afrikaanse Weermag, in samewerking met die Thabazimbi-munisipaliteit, was sedert September 2020 druk besig om die geriewe by Thaba Park op te knap.

Die projek is die afgelope week amptelik aan die munisipaliteit oorhandig. Volgens rdl. Thane Hearne, munisipale speaker, is die opknappingswerk grotendeels voltooi en sal die munisipaliteit die geriewe by Thaba Park so gou moontlik vir die publiek oopstel.

“Die projek is op Vrydag 4 Junie aan die munisipaliteit oorhandig. Die bestuurspan van die munisipaliteit het tydens hul vergadering op Maandag 7 Junie besluit dat dit noodsaaklik is dat Thaba Park eers beveilig moet word voordat dit vir die publiek oopgestel word. Vandalisme was in die verlede ’n groot probleem en nou dat die opgradering voltooi is, wil ons die eiendom beskerm teen vandalisme. Dit is ook nodig om die netbal- en tennisbane — wat nie sedert 2019 onderhou is nie — skoon te maak,” het Hearne verduidelik.

“Ons hoop om Thaba Park teen Maandag 14 Junie weer amptelik te open.”

Wanneer die sportgronde se hekke weer amptelik oop is, kan sportmanne en –vroue van regoor Thabazimbi uitsien daarna om op die topklastennis-, netbal-, rolbal- en muurbalbane kragte te meet.

Hoewel die projek hoofsaaklik afgehandel is, is daar steeds werk wat gedoen moet word by die rugbyklub, maar die munisipaliteit sien daarna uit om al die geriewe by Thaba Park van topgehalte te hê.

Die raad wag nou nog net op toestemming om die laaste deel van die beoogde opknappingsprojek by die rugbyklub van stapel te stuur.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button