BlogsOpinion

Hoofartikel: Sien jy die nood raak?

Daar loop daagliks mense verby ons wat heimlik uitroep om hulp.

Gesondheidskenner Regis Murayi het gesê dit is deel van menswees om mekaar te help.

Die Northam-polisie het onlangs die oorskot van ’n baba op ’n vullishoop gekry, wat ’n mens laat dink: “Ek wens ek was daar om die baba te help.” Maar hoe help ’n mens werklik? Wat kan jy nou eintlik doen vir die mense om jou wat ’n beduidende verskil kan maak?

Sally Koch, bekende welsynswerker, stel dit doodeenvoudig: “Groot geleenthede om ander te help kom selde oor ’n mens se pad, maar jy word daagliks blootgestel aan ’n aantal kleiner geleenthede om ’n bydra te maak.” Jy gaan nie altyd die geleentheid hê om daardie baba te help nie. Jy sal nie altyd daar kan wees vir almal om jou nie, maar jy kan elke dag op ’n klein manier ’n verskil maak.

Kan jy jou indink hoe daardie baba op die ashoop beland het? Iemand moes hom daar neergesit het. Iemand wat wanhopig was. Iemand wat geen ander uitweg gesien het nie en dalk, net dalk, is dit deur só iemand dat jy die geleentheid kry om te “help.”

Daar loop daagliks mense verby ons wat heimlik uitroep om hulp: die matriekseun wie se meisie swanger is en wat nie weet waarheen om te gaan vir raad en ondersteuning nie. Die huisvrou wat ná ’n motorongeluk aan pynpille verslaaf geraak het. Die sakeman wat aande om werk al beteken dit dat hy sy familie in die proses afskeep.

Dalk is hierdie juis die regte tyd om uit te reik en iemand te help. Jy kan dalk uitreik na iemand wat nie weet hoekom hul seun “anders” as ander seuns is nie. Of na daardie meisie wat verwerp voel weens haar swangerskap. Daardie meisie wat gevoel het sy het geen ander keuse as om haar kind weg te gooi nie.

Dit is dalk die sleutel tot Murayi se idee van “hulp” — nie noodwendig met groot gebare of geldelike ondersteuning nie. Nie met sakke vol klere of saamrygeleenthede nie, maar met ’n klein bietjie verdraagsaamheid en begrip.

Neem hierdie week ’n bietjie tyd af om op die mense rondom jou te fokus: die bejaarde vrou wat met trane in haar oë sit omdat haar kinders nie meer kom kuier nie.

Die jong man wat sy boude swaai as hy loop, al probeer hy hoe hard om “reg” te loop. Die meisie wat by die skool geboelie word omdat haar skoolrompie oud en uitgewas is.

Neem tyd vir die mense om jou en word die voorbeeld van liefde, omgee en verdraagsaamheid wat soms die verskil tussen lewe en dood kan beteken.

Related Articles

Back to top button