Local newsNews

Hansie-hoof in hospitaal

Rinus de Jager, hoof van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, is ernstig siek met Covid-19 in die Medi-Kliniek in Polokwane opgeneem.

Verskeie ander personeellede van die skool wag intussen op hul toetsuitslae.

Volgens ’n woordvoerder van die skool moes hulle noodgedwonge wéér hul deure sluit nadat dit bekend geword het dat ses personeellede, ’n werker by die koshuis en ’n gr. 11-leerder positief getoets is vir die Covid-19-virus.

Die skool het ná die skoolvakansie ook vir ’n week gesluit weens die stygende virusgevalle. Lizel Swart, akademiese hoof van die skool, het in ’n verklaring gesê die department van onderwys het weens die skerp toename in positiewe Covid-19-gevalle onder personeel (sewe) en leerders (een) besluit dat die skool onmiddellik gesluit moet word en gesluit sal bly tot op Dinsdag 8 Junie.

Slegs gr. 9-, 11- en 12-leerders mag op Woensdag 9 Junie terugkeer skool toe.

Swart het die versekering aan ouers gegee dat onderwysers sal volhou om met toewyding gehalte-onderrig te laat voortgaan.

Aanlynklasse sal deur onderwysers voortgesit word en die toetse en eksamen sal voortgaan soos beplan. Die skool sal van 2-6 Junie gesluit wees.

Die skool sal intussen gesaniteer word ingevolge wetgewing en streng protokol sal steeds gevolg word.

Related Articles

Back to top button