Local newsNews

Kinderhuis se spens weer aangevul

Die Abraham Kriel-kinderhuis (AKK) in Modimolle het op Vrydag 21 Mei ’n veldtog op sosiale media geloods om die bykans leë spens se kosvoorraad dringend aan te vul.

Daar word daagliks maaltye aan 200 mense voorsien waarvan 170 kinders tussen die ouderdomme van 18 maande tot 19 jaar is.

Marlene de Villiers, bemarker van die kinderhuis, het aan Die Pos gesê die kinderhuis se gereelde skenkings het drasties afgeneem sedert die begin van die Covid-19-pandemie.

Só het die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle se spens middel Mei gelyk (bo) met bitter min voorraad om die 170 kinders in hul sorg van maaltye te voorsien.

“Talle mense ervaar erge geldnood, maar ons moet steeds elke dag vir elke kind ’n gesonde bord kos voorberei.”

Volgens De Villiers ontvang die kinderhuis ’n regeringsubsidie wat ongeveer die helfte van hul onkoste dek.

“Ons maak staat op ons donateurs en lede van die publiek se bydraes om die balans te dek,” het sy gesê.

Sy het gesê die jongste veldtog, wat hoofsaaklik op sosiale media versprei is, was baie suksesvol en die kinderhuis bedank elkeen wat ’n bydrae gelewer het.

Gerda van der Merwe, hoof- uitvoerende bestuurder van die AKK, het aan Die Pos gesê die hulp en ondersteuning van die gemeenskap maak dit moontlik om die kinderhuis suksesvol te bestuur.

“Dit is deel van die kinderhuis se verantwoordelikheid om die kinders emosioneel en fisiek te versorg, want hulle word juis in ons sorg geplaas omdat hulle nie die nodige versorging en beskerming tuis ontvang nie,” het sy gesê.

Die AKK-span beoog om tydens Nasionale Kinderbeskermingsweek (vanaf Sondag 30 Mei tot Sondag 6 Junie) ’n verslag bekend te maak oor die kinders en personeel se belewenis van die grendeltydperk.

“Ons wil fokus op programme om die kinders te bemagtig sodat hulle die voortslepende emosionele impak, asook die onsekerheid wat die akademiese kalender betref, kan hanteer,” het Van der Merwe gesê.

Belangstellendes kan vir Marlene de Villiers bel by tel. 065 891 6616 of stuur vir haar ’n e-pos na bemarker2@akknyl.co.za(.)

  • Die Pos-kinderfonds het ruim tot dié projek bygedra. Ons moedig ander sakelui aan om ook te help waar hul kan.

Related Articles

Back to top button