Local newsNews

Rata besef belangrikheid van kinderbeskerming

Nasionale Kinderbeskermingsweek strek vanaf Sondag 30 Mei tot Sondag 6 Junie en vanjaar se tema is – Saam kan ons kinders beskerm tydens Covid-19 en daarna.

Die Pos het met Lize Fouché, maatskaplikewerker by Rata Maatskaplike dienste in Modimolle gesels oor die belangrikheid van hierdie week.

“Ons wil graag die gemeenskap herinner aan die regte van kinders en daarmee saam die verantwoordelikhede van ouers. Wanneer ouers hul verantwoordelikhede teenoor hul kinders nakom, sal kinders se regte nie geskend word nie,” het sy gesê.

Volgens Fouché behoort ouers hul kinders in liefde groot te maak, met deernis foute aan te spreek en met positiewe woorde aan te moedig.

“Ouers moet aandagtig luister en ruimte bied vir die uitdrukking van die kinders se gevoelens,” het sy gesê.

Basiese verantwoordelikhede sluit in om kinders fisiek te versorg, veral wanneer hulle siek word. Ouers moet ook verseker dat kinders skool bywoon en hulp verleen met huiswerk.

Deel van ouers se pligte is om kinders te beskerm teen boelies, molestering of teistering, alkohol- of dwelmmisbruik en blootstelling aan ontoepaslike kyk- of leesstof.

Selfone en rekenaars bied kinders onbeperkte toegang tot sosiale media en die internet wat die deur oopmaak vir allerlei probleme en gevare.

“Dit is belangrik dat ouers betrokke moet wees by hul kinders en weet waaraan hulle blootgestel word op sosiale media en selfoonboodskappe.”

Die Kinderwet 38 van 2005 omskryf “misbruik” met betrekking tot ’n kind as “enige vorm van leed of mishandeling wat opsetlik toegedien is aan ’n kind, en sluit in aanranding of die toediening van enige vorm van opsetlike besering aan ’n kind; seksuele misbruik van ’n kind of dit toe te laat, afknouery deur ’n ander kind (boeliegedrag), enige arbeidspraktyk wat ’n kind uitbuit, blootstelling of onderwerping van ’n kind aan gedrag wat die kind sielkundig of emosioneel benadeel”.

Bel gerus vir Lize Fouché tydens kantoor- ure by tel. (014) 717 3594 vir navrae.

Related Articles

Back to top button