NewsSchools

Wedvlugduiwe vir fondsinsameling

Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong het ’n weeklange Whatsapp-veiling aangebied waar mense die vlugregte van wedvlugduiwe kon “koop”.

Die geleentheid is aangebied ten bate van die skool en ook die ondersteuningsfonds vir Ava Degenaar, ’n gr. 1-leerder van Laerskool Eugène N. Marais in die dorp, wat ’n kankerlyer is.

Rudolf de Vos, bemarker van die skool, het met die plan vorendag gekom om te help met ’n fondsinsameling vir die skool.

“Ons moet hierdie soort projekte loods aangesien ons nie seker is of die Hansieweek en ander projekte vanjaar sal kan voortgaan nie. Ons het ook besluit om Ava en haar ouers te help met hulle groot mediese onkoste vir haar behandeling. Lot nr. 50 AVA is opgeveil ten bate van hierdie baie dapper meisietjie,” het De Vos gesê.

Die duiwe is deur sewe ywerige en bekende wedvlugduiweboere van Mookgophong en Modimolle geskenk. Almal is 2020-kuikens.

Die wedvlugregte is verkoop en die duiwe sal eersdaags aan twee kort wedvlugte deelneem en daarna aan een lang vlug in Julie. Altesame 50 lotte (duiwe) is opgeveil.

Die duurste duif, Trompie (lot 49), is deur Marlize Hofmann en die gr. 9-groep van die Hansies gekoop.

Sy het darem ook ondersteuning van die ouers, personeel en Johanette Pretorius gekry. Die gr. 10-, 11- en 12-leerders en ouers het ook dié goeie saak ondersteun.

Trompie is vir ’n allemintige bedrag van R16 000 verkoop.

Die “eienaars” van die duiwe staan die kans om 40% van die veilingsinkomste te wen. Ongeveer R61 000 is met die veiling vir Ava ingesamel.

“Daar is goeie prysgeld op die spel vir die eerste 10 plekke in elke wedvlug. Die duiwe wat nie verlede week verkoop is nie, sal weer net voor die vlug in Julie opgeveil word,” het De Vos gesê.

Related Articles

Back to top button