Local newsNews

TLU SA vind wapenvoorstelle teenstrydig met grondwet

TLU SA het die voorgestelde nuwe wapenwetgewing in ’n mediaverklaring as absurd en teenstrydig met die grondwet verklaar.

Volgens Henry Geldenhuys, president van TLU SA, bepaal die grondwet van Suid-Afrika se handves van Menseregte dat elke persoon die reg tot ’n veilige omgewing het.

“Aangesien die regering klaaglik daarin faal om Suid-Afrikaners se veiligheid te waarborg, moet elke persoon die reg hê om daardie beskerming self oor te neem. “Dit is ondenkbaar om te verwag dat boere, wat afgesonderd woon, hulself nie mag beskerm nie,” het Geldenhuys gesê.

Onlangse misdaadstatistieke toon ’n styging in aanvalle en moorde tydens plaasaanvalle. Geldenhuys het voorts gesê die polisie het nie genoeg werkende voertuie, uniforms of selfs toerusting om hul werk na behore uit te voer nie en boonop is sommige polisielede deel van korrupsie wat die diens verswak.

Hy blameer ook die minister van polisie, Bheki Cele, daarvoor dat die land ’n agterstand in die verwerking van DNS-monsters en vuurwapenaansoeke ervaar.

“Hoekom bestee die regering nie eerder tyd, geld en hulpbronne daaraan om eers die onwettige wapens in die hande van bendelede en ander misdadigers te verwyder, pleks daarvan om wettige vuurwapen-eienaars te teiken nie?”

Geldenhuys het versoek dat geld en tyd eerder afgestaan word aan sigbare polisiëring, hulpbronbestuur en die beskerming van boere in landelike gebiede.

TLU SA het aangedui dat die organisie die regering verantwoordelik daarvoor sal hou vir uitgawes wat spruit uit geweldsmisdade indien die slagoffers of naasbestaandes nie in selfverdediging kon optree nie.

“Die misdaadprobleem in Suid-Afrika sal nie deur dié wetgewing opgelos word nie. Dit sal net daartoe lei dat vuurwapen-eienaars oor die gebruik van vuurwapens jok of die proses systap deur wapens onwettig te gebruik.

  • TLU SA het aangedui dat hy die beoogde nuwe wetgewing — wat onder meer bepaal dat vuurwapenlisensies nié om selfverdedigingsredes uitgereik mag word nie — verder ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button