CrimeNews

Skelms slaan helder oordag toe

’n Pensioentrekker en jarelange inwoner van Modimolle, wat verkies om anoniem te bly, het aan Die Pos vertel hoe hy helder oordag op Vrydag 14 Mei van sy beursie beroof is in die parkeerterrein van ’n winkelsentrum op die hoek van Nelson Mandelarylaan en Allenstraat.

“Ek het Vrydag omstreeks 12:00 na die motoronderdelewinkel in die sentrum gery en my motor voor die betrokke winkel geparkeer. Op pad terug na my voertuig, met inkopiesakke in my hande, het ’n man my skielik van agter oorrompel. Ek het hom glad nie gesien nie en eers besef daar is fout toe ek sy arms om my lyf voel,” het hy aan Die Pos vertel.

“Ek het ontstoke gevra wat hy doen waarop hy uitdagend geantwoord het dat hy my net wil groet. Intussen het sy hande orals gevroetel en my broeksakke deursoek. Ek het so gou moontlik in my motor gespring en die deure gesluit. Toe ek tot verhaal kom, het ek besef my beursie, met al die kontant wat ek kort tevore onttrek het, is gesteel.”

Die Pos het met Julius Weideman, hoof van Jumas Sekuriteit, oor die insident gesels. Jumas Sekuriteit is verantwoordelik vir die voltydse monitering van die winkelsentrum.

“Daar is slegs een veiligheidsbeampte per skof aan diens. Dit is dus onmoontlik om die hele perseel dop te hou. Ons maak staat op die sentrum se kamerastelsel om sulke opportunistiese booswigte te identifiseer.”

Teen druktyd kon daar nog nie bevestig word of die kamerastelsel in volle werkende toestand is nie en of daar enige bruikbare beeldmateriaal van die voorval is nie.

AO James Findlay, polisiewoordvoerder in Modimolle, het by navraag gesê mense moet te alle tye bedag wees op misdadige gedrag.

Hy stel voor dat veral vroue en pensioentrekkers ekstra waaksaam moet wees omdat hulle as sagte teikens beskou word. Mense moet liefs nie alleen winkels toe gaan nie en moet liefs nie saans inkopies doen nie. Wees op die uitkyk vir verdagte mense wat doelloos rondstaan en almal dophou. Moenie jou beursie of selfoon in ’n broek- of hempsak dra nie en moenie groot bedrae kontant dra nie. Indien jy kontant onttrek by ’n kitsbank, wees bedag daarop dat niemand jou dophou of agtervolg nie. Parkeer so na as moontlik aan die winkel wat jy gaan besoek en in ’n omgewing waar jou motor maklik sigbaar is.

Die ingange na winkelsentrums is die veiligste, want daar is altyd ander kliënte.

Findlay versoek ook die publiek om enige voorval dadelik by die sentrum se veiligheidsmaatskappy, asook by die plaaslike polisiestasie, aan te meld.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button