Local newsNews

Bejaarde beseer in veldbrand

Gert Nieuwenhuiz, ’n bejaarde boer van die Mookgophong-omgewing, het ernstige brandwonde opgedoen toe hy ’n veldbrand probeer keer en deur die vlamme oorval is.

Die voorval het op Sondag 16 Mei op die plaas van die Nieuwenhuiz-egpaar in die Grootvalley-omgewing buite die dorp gebeur. Hy is inderhaas na ’n hospitaal in Polokwane vervoer waar hy op Maandag 17 Mei ’n operasie ondergaan het.

Volgens Philip van Staden, ’n vriend van Nieuwenhuiz, het die operasie vier uur geduur en het hy baie pyn verduur.

Hy is nog steeds in die hospitaal en ontvang verdere behandeling vir sy brandwonde. AfriForum-buurtwaglede van Mookgophong en Mokopane het ook gehelp om die vuur te probeer blus.

Volgens Philip van Staden, voorsitter van AfriForum in Mookgophong, het die betrokke veldbrand buite Mookgophong tussen die N1-snelweg en die R101 (die ou pad) ontstaan.

AfriForum-Naboomspruit, saam met die Mookgophong-brandweer en die dorp se gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het die brande bestry. Die buurtwaglede van Mokopane het ook hand bygesit en deur goeie samewerking kon hulle verhoed dat die brand verder versprei en moontlik ’n plaashuis beskadig.

AfriForum-buurtwaglede van Mookgophong het vroeër dieselfde dag by nog twee ander plekke ook gehelp om brandbestryding te doen en op pad terug na Mokopane het die buurtwaglede ook bystand gelewer by ’n ongelukstoneel op die R101.

Hulle het die nooddienste in kennis gestel en gewag op hul koms.

“Dit is ongelooflik om te sien hoe almal bymekaar kom om te help. Ons het nie eens die Potgietersrus-tak geskakel om hulp te vra nie; hulle het net geweet om te kom help. Wanneer nood druk, is dit baie duidelik hoe gemeenskappe kan saamwerk,” het Van Staden gesê.

“Ons sien op verskeie fronte hoe die regering in gebreke bly om hul verpligtinge na te kom. Dit laat mense spontaan hande vat en help waar hul kan. Klein verskilletjies in die verlede word ter syde gestel. Inwoners besef dit help nie om te sit en praat oor regeringsverval nie. Elkeen moet sy of haar deel bydra om werklik ’n verskil te maak,”

het Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder in Limpopo, gesê.

Related Articles

Back to top button