NewsSchools

Nylie gebruik die grendeltydperk om inspirerende boek te skryf

Jurie Crots, gr.12-leerder van Hoërskool Nylstroom, het die 2020-grendeltydperk gebruik om ’n geestelike boek met die titel The Dream — God the dream giver, Jesus the dream Saviour, the Holy Spirit the dream guide te skryf.

Die Pos het met Jurie en sy ma, Paula Crots, gesels oor die boek wat hy einde verlede jaar voltooi het. Dit is in Maart vanjaar deur Groep 7-drukkers van Pretoria gedruk.

“Ons was aanvanklik effe benoud toe Jurie in April 2020 besluit het om sy gr.12-jaar op te skort sodat hy dié boek kon skryf. Ons was bekommerd hy gaan later spyt wees om gr.12 sonder sy jarelange skoolmaats te herhaal, maar ons is baie trots op Jurie wat doelgerig gewerk het om hierdie droom te verwesenlik,” het Paula aan Die Pos vertel.

Die gesin is sedert 2014 in Modimolle en het voorheen agt jaar in Lephalale gewoon.

Paula en Braam is reeds 27 jaar getroud en het nóg twee kinders, Elshen (23) en Frikkie (25). Jurie vertel die inspirasie vir die boek het gekom tydens ’n preek van ’n gewilde Amerikaanse prediker met die tema: Elke mens se doel op aarde.

Hy het verduidelik dat hy drie maande gebruik het vir intensiewe navorsing van temas in die Bybel soos Jesus se voorbeeld van hoe om ons doel op aarde uit te leef.

Hy sê hy wil graag met die boek lesers inspireer om God se droom vir hul lewe na te streef. Jurie is baie sportief en was voorheen in die skool se tennisspan.

Hy speel sedert gr.11 ook rugby vir die skool se eerstespan. Hy draf gewoonlik as slot of agsteman uit en is vanjaar as die skool se rugbykaptein aangewys.

Hy het ’n wye belangstellingsveld wat weerspieël word in sy vakkeuse: Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, lewenswetenskap, geografie, besigheidstudies, wiskunde geletterdheid en lewensoriëntering.

Jurie vertel dat hy graag ná skool wil aanhou rugby speel, maar beoog om aanstaande jaar aan die Noordwes Universiteit in Potchefstroom te studeer.

Hy wil hom bekwaam as ’n AGS-pastoor.

Related Articles

Back to top button