Local newsNews

Vierpoot-vriende kry weer nuwe hoop

Gandhi het eens gesê die waarde van ’n nasie en hul morele vooruitgang kan gemeet word aan die manier waarop hul diere behandel word.

Vir Thabazimbi Animal Rescue (TAR) is die welstand van hul diere al vir jare top-prioriteit, maar elke troeteldiereienaar het ’n verantwoordelikheid.

Min mense besef dit so goed soos die groep weldoeners by Kuikenden Kleuterskool wat onlangs besluit het om hand in eie boesem te steek, hul moue op te rol en deel te word van die beskerming van die dorp se viervoetige vriende.

Magda Stewart (links) stel van die liefdevolle hondjies by TAR voor aan Rina Stander van Kuikenden Kleuterskool.

“Kinders en diere lê baie na aan ons Kuikenden-personeel se harte,” het Rina Stander van die skool aan Die Pos gesê.

Vir Stander en die res van die personeel by die kleuterskool is die welstand van die dorp se mees weerlose inwoners — kinders en diere — van groot belang en daarom het hulle besluit om hande te vat met TAR en ’n stem te word vir dié wat nie noodwendig hul eie stem het nie.

Ertjies de Witt, inwoner van Thabazimbi, is alombekend as iemand wat altyd regstaan om te help. Hy het ook sy ondersteuning vir Kuikenden Kleuterskool se fondsinsamelingsprojek gewys.

“Ons sien soveel honde en katte wat verwaarloos word,” het Stander gesê.

Soos by die Kuikenden-personeel glo Magda Stewart en haar span by TAR dat elke dier ’n kans verdien op ’n gelukkige lewe en daarom werk hulle hard om die welstand van alle diere te bevorder.

“Mense besef nie watter groot verantwoordelikheid diere is nie,” maan sy. “Vir baie van ons is ons diere soos ons kinders, maar ongelukkig is daar mense wat nie besef dat dit ons verantwoordelikheid is om hulle te beskerm nie.”

Volgens Stewart word TAR daagliks gekonfronteer met situasies waar mishandelde en verwaarloosde diere by hul eienaars verwyder word.

“Die probleem is dat diere se getalle bly toeneem as daar nie voorsorg getref word nie.”

Sy sê troeteldiere moet betyds hul inspuitings kry en moet gesteriliseer word indien die dier nie vir teeldoeleindes aangeskaf is nie.

Kuikenden- en TAR-personeel vra dat almal — nie net troeteldiereienaars nie — betrokke raak en bydraes lewer, al is dit hoe gering, om die diere van goeie kos en tydelike blyplek te voorsien.

“Ons kleuterskool het besluit om geld in te samel vir TAR om hulle op so ’n manier by te staan in hul daaglikse werk. Ons daag al die kleuterskole in die Thabazimbi-omgewing uit om deel te neem aan die fondsinsamelingsprojek. As elke kind by elke skool net R10 bydra, kan ons help om talle diere se lewens te verbeter,” het Stander gesê.

“Daar is die mooiste honde by TAR wat wag om aangeneem te word.”

Vir enige inligting oor Thabazimbi Animal Rescue bel gerus vir Magda by tel. 082 375 4064.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button