Local sportSport

Wintersportseisoen skop by Hoërskool Frikkie Meyer af

Sportvelde regoor Suid-Afrika was verlede jaar verlate nadat die Covid-19-inperkings aangekondig is.

Dit het op skolevlak baie teleurstellings veroorsaak toe atlete hul spykerskoene, tekkies en rugbystewels noodgedwonge moes ophang.

Die verslapping van die inperkingsmaatreëls het dit vanjaar weer moontlik gemaak om wedstryde te speel. Juis daarom was Saterdag 8 Mei vir die leerders van Hoërskool Frikkie Meyer ekstra spesiaal toe hulle in die eerste wedstryd van die seisoen kragte teen Hoërskool Merensky van Tzaneen gemeet het.

Chanté Bezuidenhout, wat hier die bal behendig afvat, was ’n sleutelspeler in die eerste netbalspan van Hoërskool Frikkie Meyer se oorwinning teen Hoërskool Merensky. Die Frikkies het die spel oorheers en met 31-19 gewen.

Dit was uit die staanspoor duidelik dat Frikkie Meyer se spanne gereed is om in hierdie seisoen te oorheers.

Die netbalmeisies het met aanvallende spel gou die opposisie laat les opsê. Hulle het oortuigend met 31-19 gewen.

Die eerste rugbyspan het met harde spel die manne van Merensky gestuit, maar in die laaste doodsnikke van die wedstryd is die bordjies verhang en Hoërskool Merensky het met slegs een punt verskil gewen. Die finale telling was 22-23.

Die seuns het na afloop van die wedstryd gesê dit maak hulle net meer doelgerig om al hul volgende wedstryde te wen.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button