CrimeNews

Nóg skerp voorwerpe op N1 gevind

Die bestuurder van ’n vragmotor het in die vroeë oggendure van Dinsdag 11 Mei die nuutste slagoffer geword van booswigte wat skerp voorwerpe op die N1-snelweg pak om voertuie se bande te beskadig.

Die Pos berig al geruime tyd oor dié manier om voertuie tot ’n stilstand te dwing en die insittendes van hul besittings beroof sodra hulle stilhou om bande te vervang.

Jaco de Jager, eienaar van die trok, het aan Die Pos gesê die voorval het ongeveer 03:15 die oggend plaasgevind.

Die trok was onderweg na die Pretoria-mark om goedere op te laai en terug te bring na Bela-Bela. Die trok het dus geen vrag op gehad ten tyde van die voorval nie. “My bestuuder het in die omgewing van die Hammanskraal-afrit twee mans ’n entjie voor hom langs die pad gewaar.

Toe hy nader aan hulle kom, het hy gesien hoe hulle iets in die pad slinger,” het De Jager gesê. Een van die trok se voorste bande het kort daarna onklaar geraak.

Die bestuuder, wat verkies om anoniem te bly, het die wyse besluit geneem om aan te hou ry.

“Hy het omtrent 9 km verder gery en by die Murrayhill-afrit langs die pad stilgehou. Die band was aan flarde. Hy het my gebel en direk daarna die Hammanskraal-polisie in kennis gestel.”

Volgens De Jager was die polisie binne vyf minute op die toneel. Ondersoek is ingestel, maar hulle kon geen leidrade vind nie en die twee verdagtes was ook skoonveld, het De Jager gesê.

  • Die Pos het in April vanjaar berig oor ’n bekende Modimolle-inwoner wat in ’n ambulans na ’n hospitaal in Pretoria onderweg was, wat ’n soortgelyke ondervinding op die N1 gehad het.

Die personeellede van die ambulans het ook kopgehou en aanhou ry op die vellings van die bande tot waar dit veilig was om stil te hou.

Die paramedikus het intussen die polisie ontbied en hul te hulp gesnel.

Related Articles

Back to top button