CrimeNews

Flink optrede lei tot inhegtenisname

Die flinke optrede van die polisie in Mookgophong het daartoe gelei dat twee vermeende rowers in hegtenis geneem is weens die roof en ernstige aanranding van ’n man (61) en vrou (59) in Managapane in Modjadji buite Tzaneen.

Die voorval het die oggend van Dinsdag 11 Mei plaasgevind.

Volgens AO George Ledwaba, mediawoordvoerder van die polisiestasie in Mookgophong, het die polisie omstreeks 12:00 Dinsdag ’n oproep van die egpaar se seun, Corese Seswenye, ontvang met inligting dat die gesteelde voertuig op die N1-snelweg net ná die Nyl-tolplaza (rigting suid) opgemerk is.

Seswenye het aan Die Pos vertel dat hy op pad na sy ouers was nadat hy van die voorval gehoor het en toe self die voertuig op die N1 opgemerk het. ’n Vrou by die tolhek het aan hom die polisie in Mookgophong se telefoonnommer gegee.

“Ek wou hulle nie self konfronteer nie, want ek het nie geweet of hulle gewapen is nie,” het hy vertel.

AO Bongani Kolobe en sers. Rosina Nkanyamane het dadelik gereageer en die voertuig, ’n Toyota-dubbelkajuitbakkie, naby die afrit na Mookgophong van die pad getrek en die twee vermeende rowers is in hegtenis geneem.

Die buit, waaronder televisies en verskeie elektroniese toebehore, was ook in die bakkie. Volgens Seswenye is die een verdagte aan hom bekend en was hy voorheen in sy diens.

Hy is in Maart 2021 op parool vrygelaat weens ’n vorige oortreding van huisbraak. Hy het na bewering in 2017 by Seswenye se huis in Kempton Park ingebreek en eiendom gesteel.

Albei die mans is Mosambiekse burgers. Seswenye se ouers woon langs sy woonhuis in Modjadji en het na sy huis omgesien terwyl hy werk in Gauteng gedoen het.

Hy is ’n ontwikkelaar in Gauteng. Die waarde van die goedere wat gesteel is, word op ongeveer R500 000 geraam.

Die verdagtes sou op Donderdag 13 Mei in die hof in Mookgophong verskyn het.

Seswenye het die polisie geloof vir hul flink en goeie werk.

Related Articles

Back to top button